Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
PE-Express
Newborn rhino brings joy at Kragga Kamma

’n Renosterkalfie is Vrydagmiddag in die Kragga Kamma-wildreservaat buite Port Elizabeth gebore.

Sy is die eerste renostertjie wat in die reservaat gebore is sedert Bella, ’n 20-jarige renoster, in Junie 2018 deur stropers geskiet is. Dit was minder as ’n week nadat sy deur ’n veearts onthoring is.

’n Besoeker het die nuus van die kalf gebring, sê Ayesha Cantor, mede-eienaar van die wildreservaat. Hulle het die kleintjie al in Junie 2019 verwag.

“Ons het al begin dink die renosterkoei (Bembi) is nie dragtig nie. En daar gebeur dit toe nadat ek net verlede week vir die renosteroppassers gesê het sy gaan nie kalf nie,” sê Cantor.

Monique le Grange van Port Elizabeth het sommer met haar eerste besoek aan die reservaat opgelet dat daar ’n kalf moet wees en die bestuur daaroor ingelig.

“Ek en my kêrel het twee of drie renosters in die bosse dopgehou. Dis toe dat ek die bloed op die koei se bene sien. Dit het letterlik gelyk soos verfblikke wat geval het.”

Hoewel sy nog nooit voorheen ’n renoster sien kalf het nie, het sy gou besef wat gebeur en besef daar moet ’n kalfie wees.

“Ek het die park se pamflet gegryp en die nommer daarop gebel. Binne vyf minute was almal daar.”

Le Grange-hulle het ’n uur lank gewag om die kalfie te sien, maar Bembi wou haar nie wys nie.

“Ons baba was saam in die motor en ons kon nie veel langer wag nie. Ek het darem later foto’s gesien en ons gaan beslis terug om die kalf te sien.

“Dit is ’n ervaring wat my nou nog hoendervleis gee,” het Le Grange gesê.

Volgens Cantor het sy en die res van die reservaat se span sowat drie ure gewag voordat hulle die nuwe toevoeging tot hul renosterfamilie kon sien. Sy is die sewende renosterkalf wat op die reservaat gebore word.

https://www.facebook.com/ayesha.copelandcantor/videos/10158337539498646/

Terwyl almal verheug is oor die nuwe kalf, moet Bonnie, Bembi se jongste kalf, asook Tank, Bembi se aanneem-kalf, plek maak vir die nuweling.

Tank was 16 maande oud toe sy ma, Bella, doodgeskiet is.

Bembi het Tank onder haar vlerk geneem en saam met Bonnie versorg.

“Bonnie en Tank is hartseer dat hulle weggestoot word om plek te maak vir die nuweling. Veral Tank, ek dink dit herinner hom aan die vorige keer dat hy wees gelaat is.

“Gelukkig kan die twee jong renosters mekaar troos.”

Cantor benadruk ook ná Bella se dood het die reservaat sy veiligheidsmaatreëls selfs verder verskerp. Die renosters word nou 24 uur per dag elektronies gemonitor en hulle word deur ’n wag bewaak. Daarby word hul horings kort gehou om gierige stropers weg te hou.

Cantor het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om te help met ’n naam vir die kalf. Voorstelle op hul Facebook-blad sal verwelkom word.

“Die renosters behoort nie net aan die reservaat nie, maar ook aan elkeen van ons besoekers. Daarom wil ons graag die gemeenskap deel maak van die opwindende proses.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak PE Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.