In Suid-Afrika is die eerste slagoffer in September 1918 in Durban aan die virus oorlede. Daarna het die epidemie blitsvinnig reg oor die land, insluitend na die Paarl, versprei.
Paarl Post het in die uitgawe van 12 Oktober 1918 die eerste keer oor dié virus berig en binne die volgende maand sou meer as 600 mense in die Paarl aan die siekte beswyk.
Die hele dorp is tot stilstand geruk en dr. Elizabeth Albertyn skryf in haar doktorale proefskrif dat ’n wa in hierdie tydperk daagliks by huise in die dorp langs gekom het sodat lyke daarop gelaai kon word.
Paarl Post het destyds berig een van die eerste mense wat in die Paarl aan die griep dood is, was ene mev. Bredenkamp, wat toe 24 jaar oud was.
Uit die beriggewing blyk die plaag het vinnig in die dorp versprei en kort daarna was daar “geen huis waarin de een of ander niet daarvoor aangetas is”.
Teen middel Oktober daardie jaar was daar reeds ’n tekort aan medisyne en kos. Drie van die plaaslike dokters het ook die siekte opgedoen en daarom moes die siekes in die meeste gevalle hulself behandel.
Die Paarlse stadsraad het saam met die NG kerk inderhaas ’n komitee, bekend as “die Spaanse Influensa Epidemie Komitee”, saamgestel om gratis voorraad soos medisyne en kos aan behoeftiges te verskaf.
Die komitee het drie noodtente, onderskeidelik by Paarl-stasie, Markplein en Van der Poelsplein opgerig waar gratis medikasie, melk en sop aan armes uitgedeel is.
Die stadsraad het in hierdie tyd gereeld noodvergaderings gehou sodat verdere noodmaatreëls teen die siekte opgestel kon word.
Die ellende in die dorp was teen daardie tyd groot en Paarl Post het destyds berig dat die stadsraad “op 'n vraag oor die verschaffen van doodskisten” tot geen finale besluit kon kom nie.
Paarliete was desperaat om geneesmiddels teen die dodelike siekte te kry en boererate in die koerant was volop.
In die uitgawe van 23 Oktober 1918 berig die koerant oor ene G.S. Hauptfleish van Lemoenkloof in die Paarl, wat ’n “onfeilbare” konkoksie opgetower het. Dit omdat Hauptfleish die skynbare geneesmiddel vir sy familie en plaaswerkers ingegee het en niemand aan die siekte omgekom het nie.
Hauptfleish raai in die berig siekes aan om ’n bottel water met drie lepels “Jeyes Fluid” te meng en een teelepel daarvan, drie maal per dag, te drink.
Bedrywighede in die dorp het op hierdie tydstip tot stilstand gekom en kerkdienste, basaars en ander byeenkomste is op aanbeveling van die stadsraad uitgestel.
Volgens Albertyn het verskeie opvoedkundige sentrums en sakeondernemings permanent gesluit.
Die gevoel van ellende en verlies bereik waarskynlik in die uitgawe van 23 Oktober 1918 ’n laagtepunt in ’n elle lange berig wat amper volkome uit Bybelaanhalings bestaan. Daarin word onder meer gepreek oor hoe God erge dinge met die Jode laat gebeur het om “Israel te straffen ter oorzake van hunne eigen zonde”.
In die uitgawe van 2 November 1918 blyk dat die aansteeklike siekte oplaas begin wegkwyn het. “Er zyn nog enkele ernstige gevalen, doch de algemene opinie is dat de plaag niet meer van zuik ernstige plaag is.”
In daardie week het die getal sterftes van 13 op Maandag tot drie op Vrydag afgeneem en dit blyk dat die siekte sy laaste stuiptrekkings gehad het. Nuusbrokkeis oor die Spaanse griep het in die komende maande al korter geword voordat die tragedie oplaas heeltemal uit die koerant – en dekades daarna uit die kollektiewe geheue van Paarliete – verdwyn het.
Die Spaanse griep het in Suid-Afrika ongeveer 500 000 lewens geëis en 50 miljoen wêreldwyd, toe een derde van die wêreldbevolking
* This year marks 102 years since the devastating Spanish Influenza Virus killed millions of people world wide. In Paarl more than 600 people died from this flu in a span of about a month.