Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Alfreda Mars wys die manne hoe

Dit is nie aldag dat jy hoor van ’n vrou wat met graan en vee boer nie, maar die 45-jarige Alfreda Mars wys as jy ’n passie en deursettingsvermoë het, kan dit wel gedoen word.

Mars, ’n kommersiële boer van Middelpos naby Moorreesburg, meen haar liefde vir boerdery is van kindsbeen af deur haar pa aangewakker.

Sy vertel sy is gebore en getoë in Saron en het haar pa, Frans, smiddae ná skool in hul gemeenskapstuine gehelp waar hy met skape en groente geboer het.

“Ek het al as kind ’n passie vir boerdery gehad. Die Mars-familie het jare gelede plase in Ceres en in die Karoo besit, en toe die plase afgevat is, het my pa-hulle Saron toe getrek,” vertel sy.

Sy vertel die departement van grondsake het destyds programme in Saron vir opkomende boere begin.

“Daar was 25 projekte waarvan ek by een van die projekte saam met ses ander lede betrokke was. Die vyf ander lede was mans; ek was die enigste vrou. Ek was toe maar nog in my twintigs.”

Die groep moes lenings aangaan om met hul projek te begin en toe die mans almal wegval en die projek deur die mat val, is Mars vrou-alleen met die skuld agtergelaat.

“Ek het daardie jaar alles wat boerdery betref, verloor. Ek is toe uit boerdery en het ’n bestuurder by ’n saagmeule geword.”

Ten spyte van die wankelrige begin, sê Mars, was haar passie vir boerdery steeds daar en het sy haar liefde vir boerdery verder op haar pa se grond voortgesit.

’n Paar jaar later het Mars en haar vennoot en lewensmaat, Evan Mathews, hul naam in die staat se databank gesit toe hulle hoor dat nuwe projekte uitgereik is.

“Ons het in 2013 gehoor ’n plaas is op tender beskikbaar, en ons het ons naam op die lys gesit. Ons het vir talle onderhoude gegaan en aan die einde van 2014 gehoor ons het die plaas Middelpos gekry.”

Sy onthou die staat se finansiering was eers twee jaar later beskikbaar, maar dit het hulle nie gekeer nie. “Ek en Evan het net ’n trekker en ’n paar skape gehad. Ons het niks van saaiboerdery geweet nie, want ons is groente- en veemense, maar toe begin ons maar op die plaas boer,” vertel sy.

Mars en Mathews is uit 30 aansoekers gekies om die plaas van 266 ha ingevolge die regering se proaktiewe grondverkrygingstrategie oor te neem, en só het MMM-boerdery ontstaan.

Hulle het aanvanklik ’n vyf-jaar-huurooreenkoms by die staat gekry en daarna ’n verdere 30 jaar. Mathews is egter kort daarna oorlede.

Volgens Mars is van die uitdagings wat sy oor die jare in die gesig gestaar het dat vroue nie maklik finansiering kry nie.

“Jy is maar in ’n manswêreld. Die uitdagings is groot en dit is verskriklike harde werk.

“Ek werk met mans; slegs die administratiewe klerk is ’n vrou, en jy as vrou moet jou voet regtig dwars sit.

Sy sê om haarself verder te bemagtig het sy haarself geleer hoe om met gereedskap te werk en het sy ook ’n paar kursusse voltooi.

“Ek het gou besef – dikwels as ek iemand gekry het om iets reg te maak en hulle sien ek is ’n vrou, dan vat hulle kanse, toe leer ek maar hoe om self met ’n spanner en sweismasjien te werk. Ek is ’n vrou, maar my hande is grof,” lag sy.

Mars meen al was van haar bure aan die begin toe sy op die plaas kom dalk ’n bietjie skepties, kom hulle goed oor die weg en dit is vir haar baie belangrik om ’n goeie verhouding met haar bure te hê.

“Hulle is altyd daar om ’n hand uit te reik. Ek kan by enigeen se deur gaan aanklop en hulle reik uit. Ek woon nie op die plaas nie, maar my buurmense is my oë en my ore.”

Mars sê sy sal gewis ander vroue aanraai om met vee en graan te boer en sy glo vroue sal beter in dié bedryf vaar omdat hulle weet hoe dit is om kos op die tafel te sit.

“Die plaas vat die stres van die lewe weg. As ek soggens by die plaashek inry en ek sien die son opkom, bring dit vernuwing in my.”

Oor wat haar dogter, Falon Mars, dink van die boerdery sê sy dat Falon, ’n prokureur, nie juis in haar voetspore gaan volg nie, maar dat sy baie trots is op wat haar ma bereik het.• Mars is Donderdag om 18:00 te sien in die nuwe VIA-televisiereeks Vir die liefde van die land (DStv-kanaal 147). Dié reeks salueer die onbesonge helde van landbou, en stel kykers bekend aan die mentors, bure en werkers van ’n nuwe geslag boere. Herhalings is Saterdae om 10:30, Sondae om 20:00 en Maandae om 08:00.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.