Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ampie bly hier voortleef

Ampie Coetzee (81), stigterslid van die Breytenbach- kuns- en kultuursentrum in die hartjie van Wellington, se nagedagtenis sal in hierdie unieke gemeenskapsentrum bly voortleef nadat hy vroegoggend op 15 Oktober in die Paarl-hospitaal aan hartversaking gesterf het.

Prof. Ampie Coetzee kon krities en indringend oor letterkunde sowel as politiek skryf, maar het hom met groot deernis oor die enkeling en getroffenes ontferm.

“Dit sal by die sentrum voortgesit word,” het Francois Lötter, uitvoerende direkteur van die sentrum, gesê.

Coetzee het in die 13 jaar wat hy en sy vrou, Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach-galery was, en hul seun Kobus (19), wat in Wellington woon, diep spore getrap en geliefd en bemind geword.

Volgens Lötter word Coetzee nie net allerweë as een van die grootste kenners van sy jare lange boesemvriend Breyten Breytenbach se digkuns beskou nie, maar was hy ook ten nouste gemoeid met die totstandkoming van die Breytenbach-sentrum twaalf jaar gelede. Hy was ook die eerste voorsitter van die Breytenbach Trust.

Die sentrum is gevestig in die huis in Burgerstraat waarin Breytenbach en sy jongste broer en suster saam met hul ouers gewoon het.

Coetzee het as Afrikaanse letterkundige by die universiteite van die Witwatersrand en Wes-Kaap, asook Natal (Durban) gewerk. In die jare sewentig, toe staatsensuur gebruik is om Afrikaanse literêre werke te onderdruk, het hy ’n leidende rol gespeel in die stryd teen sensuur deur die skep van die uitgewery Taurus en die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde.

Hy was ook een van die sleutelmense in die afvaardiging wat in 1987 leiers van die destydse nog verbode ANC in Dakar ontmoet het.

Coetzee word oorleef deur sy vrou, Anne-Ghrett, en hul seun Kobus, asook sy seun Marko uit sy tweede huwelik, sowel as Marko se vrou, Karen, en twee kleinkinders, Etienne en Eloïse.

’n Huldigingsbyeenkoms word Sondag 25 Oktober om 11:00 in die digterstuin by die Breytenbach-sentrum gehou. ’n Beperkte aantal mense word weens die Covid-regulasies toegelaat. Belangstellendes wat die geleentheid wil bywoon, word versoek om Jessica by 021 873 2786 te kontak.

Die huldigingsbyeenkoms kan ook aanlyn gesien word by https://www.youtube.com/user/BreytenbachSent

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.