Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Beáta blink in ’Laan

Die Paarliet Beáta Green het verlede week haar verskyning in die bekende sepie 7de Laan gemaak.

Green, ’n oudleerder van William Lloyd Primêr in die Paarl, vertolk die rol van Crushanda “Shady” Vermeulen, die broerskind van Bonita Meintjies.

Green is deel van 7de Laan se rolverdeling-internskapprogram wat geleenthede skep vir jong aspirant-akteurs in die film-, teater- en televisiebedryf.

Die lewenslustige, uitgesproke en woelige Shady is deur haar ma met die hulp van haar ryk grootouers grootgemaak en het nooit haar pa, Ronald, wat ook die straatnaam “Trigger” het, geken nie. Trigger is Bonita se jong, misdadiger-broer, wat haar in ’n stadium van haar lewe by misdaad ingetrek het waarvoor hy nog gevangenisstraf uitdien.

Met haar pa in die tronk verander Shady in ’n tipiese rebelse tiener wat teen haar ma se wense ’n verhouding met haar pa wil hê, en bevind haar dus in Hillside op soek na hom.

Shady word deur ’n etniese aura omgewe en dit is nie ’n prioriteit om in Hillside in te pas nie. Sy is vasbeslote om ’n suksesvolle toekoms vir haarself te bou, maar dit kom nie sonder struikelblokke nie.

Anders as haar karakter is Beáta stil en gereserveerd.

Dié 24-jarige, wat ’n BA-honneursgraad het, is ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse televisie met rolle in die kykNET-telenovela Arendsvlei en die spanningsreeks Die Spreeus, en het ’n kleurvolle agtergrond in modelwerk.

Gesins- en liefdadigheidswerk, veral waar kinders betrokke is, lê haar ook na aan die hart. “7de Laan het ’n fundamentele rol in my opvoeding en die daaglikse kultuur van my huishouding gespeel. Ek is opgewonde oor die geleentheid en geëerd om lid van die 7de Laan-span te wees. Ek kan nie wag dat die lojale kykers Shady ontmoet nie.”

Oor hoe sy die verfilming sover ervaar, sê Beáta: “Dit is ’n baie opwindende veld. Ek was vol adrenalien op my eerste dag en het sommer gou by alles aangepas. Wat egter vir my uitstaan, is die vriendelikheid van die cast en crew. Ek glo nie ek kon vir ’n beter begin gevra het nie. Ek geniet die karakter wat ek vertolk, baie. Shady is ’n lieflike en prettige individu en haar rol is baie uitdagend. Wanneer ek voorberei en deur Shady se dialoog lees, betrap ek myself baie dat ek hardop vir haar snaakse maniere lag. Die feit dat Shady en ek so min in gemeen het, maak dit soms uitdagend, maar terselfdertyd is dit verfrissend, want die uitdagings help ’n mens as mens en aktrise groei.”

Beáta het aan die Hoërskool Hottentots Holland in Somerset-Wes gematrikuleer, waar sy die hoofmeisie en ook die voorsitter van die VRL was.

As aktrise wil sy mense se stories met waardigheid en eerlikheid vertel. “Deur stories te vertel, word jy die geleentheid gebied om empatie teenoor ander te toon, ’n blik in ander se lewe te kry en mense se vooropgestelde idees en beelde van ander te verander. Dit is so belangrik dat ons mekaar se hartklop en lewensverhale verstaan en verdraagsaamheid onder mekaar kweek.”

Beáta sien haarself in die toekoms op enige plek waar sy ’n doel kan dien en ’n verskil in mense se lewe kan maak. “Die einddoel is om my talente ten volle te ontwikkel en uit te leef en my volle potensiaal te bereik. Waar die reis my ook al gaan neem, sal ek dit met ope arms verwelkom.”. Paarlite Beáta Green is taking the South African television industry by storm.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.