Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bejaardes maak misnoeë bekend

“Ons kry swaar; ons smag na vryheid!”

Só lui die plakkaat van een van die 30 inwoners van Huis Vergenoegd wat Donderdag 17 September ’n vreedsame betoging buite die ouetehuis gehou het.

Nes die res van die land het hulle ook vasgenael voor die televisie of radio gesit en luister hoe die president op 16 September die land toespreek en die vlak 1-regulasies aankondig.

Dit het egter nie ’n beduidende verskil aan dié bejaardes se daaglikse lewe gemaak nie, vertel Nina Slabbert, voorsitter van Huis Vergenoegd se bestuur.

“Die aankondiging het meer gefokus op besoeke vir die inwoners in die ouetehuis, maar daar was nog geen sprake van uitgaan nie. Ons kry amper die idee dat dit ’n psigiese ding is – die kettings van toe. Hulle sit al ses maande in afsondering en hulle weet nie wanneer hulle net ’n bietjie sal kan uitgaan nie.”

Slabbert vertel dat hulle mooi na hul 200 inwoners se liggaamlike welstand omsien en het die nodige veilige afstand om die etenstafel toegepas, maar dit is hul gemoedstoestand wat nou agteruitgaan. “Ons het ’n paar mense wat ernstige tekens van depressie toon. Ons moet daaraan aandag gee. Hulle wil hul kruideniersware gaan koop. Hulle moet banke toe gaan, of hul agterkleinkinders sien. Ons wil hê dat daardie reëlings verslap moet word.”

Met Paarl Post se besoek aan die ouetehuis was dit opmerklik hoe die optog hulle weer opgewonde gemaak het. Hulle het vir die motoriste gewaai en het vir die eerste keer in ’n halwe jaar weer opgewondenheid beleef. Die meeste van die inwoners het in hul lewe nog nie betoog nie en skerts dat hulle soos rebelse tieners voel.

Nietemin het die pret net vir omtrent 20 minute geduur en is hulle weer terug agter slot en grendel.

Slabbert vertel van die hartseer wat die inwoners met haar gedeel het: “Hulle sê vir my: ‘Ek kan net sowel doodgaan, want hierdie is nie lewe nie . . . ek vat eerder ’n kans en lewe tussen my mense’.”

Huis Vergenoegd sê hulle besef dit sal moeilik wees om die inwoners buite in die samelewing te huisves.

Weens hul vatbaarheid vir die virus sal ekstra gesondheidsmaatreëls daargestel moet word, maar nietemin is hulle ywerig vir die dag wanneer hul mense weer hul vryheid sal terugkry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.