Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bemagtiging vernietig plase

In teorie behoort die beginsels van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging positief van aard te wees, maar waarom bewys praktyk anders wanneer dit by boerdery kom?

Paarl Post het verlede week oor ’n eierboer berig wat na bewering by ’n kaping naby die Kaapstad-lughawe betrokke was. Die boer, Theophelus “Theo” Sibeko, huur al van 2015 ’n staatsplaas teen spotgoedkoop tariewe in ’n swartbemagtigingsinisiatief met die oog om dit te ontwikkel, maar sedertdien is die plaas vervalle en die eierboerdery ’n kommersiële mislukking.

Om nog sout in ander bekwame boere se wonde te vryf, het dit aan die lig gekom dat Sibeko net sowat R40 000 huur per jaar betaal en boonop het hy die eerste drie jaar van sy kontrak met die departement van ekonomiese ontwik­keling en grondhervorming onderskei­delik 75%-, 50%- en 25%-afslag vir huurgeld gekry.

Die eens winsgewende eierplaas, wat duisende eiers per dag produseer, verpak en selfs na handelaars vervoer het, is tot niet. Die werksgeleenthede is uit die aard van die saak saam met die produksie gerem. Die plaas is verder ook nie net ’n kommersiële mislukking nie, maar huisves moontlik misdadige aktiwiteite.

Lisinda Lubbe, ’n inspekteur vir die Paarl DBV, het bevestig dat ’n klag van dieremishandeling teen Bellevue-plaas aanhangig gemaak is nadat 12 000 hoenders weens erge verwaarlosing van kant gemaak moes word. Die hoenders is weens ontwatering, honger en beserings weens kannibalisme uitgesit.

Dit is nie die eerste keer dat ’n wins­gewende plaas in Drakenstein in ’n swart­bemagtigingsprojek tot stilstand kom nie. Paarl Post het van 2005 tot 2007 berig oor hoe Kweekvlei-plaas binne twee jaar van ’n grootskaalse wyndruif- en melkboer­dery in ’n vervalle bedrogspul verval het. Die plaas is sowat 10 km noord van Wellington in Agter-Groenberg geleë.

Biz Afrika 1781 is in 2005 deur 74 Kaapse Korps-veterane gestig en Kweekvlei-plaas is deur die maatskappy gekoop nadat die destydse departement grondsake (nou die departement van ekonomiese ontwikkeling en grondhervorming) R3 miljoen aan Biz Afrika 1781 geskenk het en ’n lening van R2 miljoen deur die Landbank toegestaan is.

Aanvanklik was die gees goed en die lede was optimisties oor die plaas, maar slegs twee jaar later het die hele prentjie verander. In Mei 2007 is drie trekkers, ’n sleepwa, twee spuitpompe, die laaste plaasimplemente en nege beeste vir skuld opgeveil. Van die 70 hektaar wingerd was 47 ha. ouer as 30 jaar en moes vervang word. Die drie ton druiwe wat gewoonlik gepars is, het tot 170 kg gedaal en van die 230 Jersey-kudde was daar teen 2007 net een bul en 20 koeie oor.

Slegs ’n jaar nadat die plaas gekoop is, het gerugte van grootskaalse bedrog die ronde gedoen en werkers het glo direkteure op die plaas aangehou oor agterstallige lone en onregmatige aftrekkings. ’n Bees is glo destyds geslag om die werknemers te paai.

Dié spogplaas is egter intussen twee keer verkoop en die nuutste eienaar, ’n sakeman met menige plase, het die plaas weer winsgewend restoureer. Hy vertel die plaas besproei nou verskillende gewasse onder spilpunte, afhangende van die seisoen. Die nuwe eienaar, wat die plaas in 2017 gekoop het, sê die plaas het steeds enorme potensiaal en hy is van plan om dit só te ontwikkel. • Broad-based Black economic empowerment is supposed to uplift previously racially marginalised and oppressed South Africans, but why are farms failing in practice? Paarl Post has reported on two BEE farms which have been reduced to economic failures.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.