Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boervrou met passie

HERMANUS – As kind het Marilyn Siegels nooit gedroom dat sy eendag sou boer nie, nog minder dat sy as die Wes-Kaap se boervrou van die jaar aangewys sou word.

Nou is Marilyn een van drie direkteure van die maatskappy Nitaflo Pty Ltd wat Proteaplaas buite Grabouw bestuur.

Siegels, oorspronklik van Hawston, het twee jaar gelede as sake-koördineerder betrokke geraak by die bedryf van die plaas waar haar pa, Edward van Niekerk (66), en suster, Yolande van Niekerk, sedert 2013 boer.

Voor dit het Siegels sewe en ’n half jaar lank as junior lektor by die Universiteit Stellenbosch gewerk nadat sy haar B Sc Dieetkunde-honneursgraad in 2000 behaal het. Sy het ook ses maande as dieetkundige by die departement van gesondheid gewerk en was nege jaar ’n mediese verteenwoordiger by Nestlé Infant Nutrition.

Die skuif van professionele vrou tot boervrou, sê Siegels, was nie so moeilik nie aangesien sy reeds voor dit op die plaas uitgehelp het deur die boekhouding te doen en sakeplanne op te stel. Dit was egter ’n uitdaging om by ’n nuwe roetine aan te pas.

“Vakansies bestaan nie regtig op die plaas nie – die bome moet versorg word,” sê Siegels. “Ek het darem ’n bietjie meer buigsame ure, wat beteken ek kan my seun Auric met sy skoolwerk help.”

Die familie huur die plaas sedert 2013 by die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Die span kon danksy geld wat hulle van die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming ontvang het, nuwe implemente vir die plaas koop en die bedryfskoste dek. Geld van die Jobs Fund is vir nuwe boorde gebruik.

Saam bestuur die twee susters en hul pa 12,66 hektaar vrugdraende en 18,2 hektaar nie-draende appel- en pruimboorde op die plaas in die Elginvallei. Die appels en pruime word uitgevoer en die tweedegraadappels word aan Appletiser voorsien.

Siegels is met reg baie trots op die feit dat hul maatskappy 100% swart eienaarskap het en dat 80% van die maatskappy deur vroue besit word.

“Ons is twee swart vroue in ’n bedryf wat hoofsaaklik deur wit mans oorheers word. Ons het gelukkig die kundigheid van my pa met meer as 30 jaar ervaring in die bedryf van ’n vrugteplaas,” sê Siegels trots.

Siegels is uiters trots op die feit dat sy in 2019 as die Wes-Kaapse boervrou van die jaar aangewys is.

“Dit gee nie net erkenning aan my nie, maar my hele familie, veral my pa, se harde werk,” sê sy. Wat dit nog meer spesiaal maak, is die feit dat sy en haar suster die enigste swart vroueboere in die Elginvallei is.

“Dis belangrik om meer jongmense en vroue betrokke te kry – sonder landbou kan ons niks doen nie,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.