Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boishaaier ken van met insekte boer

Van met insekte boer kan jy vir dr. Michael Woods min vertel. Om die waarheid te sê, dié oud-Boishaaier is na alle waarskynlikheid die hoogsgekwalifiseerde insekboer in die wêreld.

Woods het in Desember sy doktors­graad in veekundige wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit agriwetenskappe verwerf en is die eerste mens wat ’n PhD in massa­boerdery van insekte verwerf het. Hy het basies bestudeer hoe ’n mens insekte die beste moontlik kan versorg en voed sodat op groot skaal met hulle geboer kan word om verder tot bruikbare produkte te verwerk.

Woods het in Saldanha grootgeword en het in 2010 aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer.

Volgens voorspellings sal die gebruik van insekte in die dierevoermark teen 2030 meer as 2 300 miljoen Amerikaanse dollar sterk wees, en die verskaffing van insekte aan die voedsel- en voedings­bedryf op 8 000 miljoen Amerikaanse dollar staan.

Snelsgroeiende landboubedryf

“Ons besef al meer die waarde van insekte as voedselbron vir plaasdiere en die mens – om peste en indringerplante te beheer en om ons te help om van afvalkos en abattoir-afval ontslae te raak sonder dat dit op ashope hoef te beland,” vertel Woods.

“Om hierdie dienste te kan verskaf, moet jy op volhoubare en gereelde grondslag gehalte-insekte aan die mark kan verskaf. Dis waar grootskaalse insekboerdery inkom,” verduidelik Woods. Hy meen dis tans die snelsgroeiende landboubedryf ter wêreld.

Woods het ná skool ’n BSc- en MSc-graad in veekundige wetenskappe aan die US verwerf en dis in dié tyd dat die gogga om met insekte te boer hom gebyt het. Vir sy meestersgraad het hy gekyk watter verskillende diëte inseklarwes gevoer moet word om die beste moontlike eindprodukte te kan lewer. Konsultasiewerk hieroor het hom reeds na by die 20 lande geneem.

“Om met insekte te boer, is in baie opsigte soortgelyk aan die intensiewe produksie van vee. Insekte het net soos varke en hoenders ook spesifieke voedingstowwe nodig om te floreer, wat ’n mens in hul kos moet kan verskaf,” vertel Woods.

“Die lekkerte van insekte is dat ’n mens glad nie soveel ruimte nodig het om grootskaals met hulle te boer nie.

“Insekte bestaan basies uit drie dele: vet, proteïene en ’n bietjie chitien,” verduidelik hy verder. “Elke deel is waardevol, en kan nuttig gebruik word.”

Vir sy doktorsgraadstudie het Woods ’n bestaande hidrolise-proses wat ensieme gebruik, aangepas. Daardeur kan vet, proteïene en chitien, waaruit insekte bestaan, ten beste afsonderlik onttrek word. Die proteïen kan byvoorbeeld in dierevoer of in voedsame aanvullings vir mense gebruik word en die chitien kan omgeskep word in bio-afbreekbare verpakking of filters.

Woods het sy navorsingswerk onder leiding van sy hoofstudieleier, dr. Elsje Pieterse van die US se departement veekundige wetenskappe, en dr. Neill Goosen van die prosesingenieurswese-afdeling voltooi. Dié drie het ook saam ’n maatskappy, Susento (wat staan vir sustainability through entomology), gestig wat ’n totalewaardeketting-aanslag het en in alle velde van insekboerdery tot by die verskaffing van afvalprodukte betrokke sal wees.

Die maatskappy, wat nog in sy babaskoene is, word ondersteun deur Innovus, die US se innovasiemaatskappy wat verantwoordelik is vir die kommer­sialisering en beskerming van idees wat uit die US se werksaamhede ontstaan.

’n Handvol maatskappye in Suid-Afrika is reeds besig met insekboerdery, hoofsaaklik om as voedselbron vir die dieremark te dien, of as deel van pesbeheerprogramme. Susento is na Woods se kennis die eerste wat ’n “totale waardeketting-aanslag” het en in alle velde van insekboerdery betrokke sal wees tot by die verskaffing van by-produkte. Die maatskappy gaan ook diëte ontwikkel vir insekte wat in massas geteel moet word as deel van geïntegreer­de pesbeheerprogramme of as voer, vir die lewering van vesel (byvoorbeeld sywurms) of as voedselbronne (soos mopaniewurms). Daar sal ook met insekte vir die troeteldierbedryf geboer word, en veral venstervlieë sal in verskillende byprodukte verwerk word.

Eksperimenteer met venstervlieg­larwes

Woods bedryf tans ’n eksperimentele eenheid op die fakulteit agriweten­skappe se Mariendahl-proefplaas buite Stellenbosch wat tot 30 kg venstervlieg­larwes per dag lewer. Hy beplan egter ’n eenheid wat tot ’n ton larwes per dag kan lewer, tesame met ’n prosesserings­aanleg.

Woods sê hy het die larwes van venstervlieë gekies omdat hulle nie ’n pes is nie, geen siektes versprei of in huise voorkom nie en onskadelik is. Hy sal ook kleinskaal met meelwurms en krieke boer, wat as voedsel vir die troeteldiermark gelewer kan word.

Pieterse word beskou as een van die voorste kenners op die gebied van insekboerdery ter wêreld. Sy meen dis voordelig vir die omgewing om insekte te gebruik om byvoorbeeld vrugtepulp en skille wat by kos- en sapfabrieke ophoop, af te breek. “Kos wat op afval­hope ontbind, stel metaangas vry wat sleg is vir die omgewing. Dieselfde gebeur nie wanneer insekte oorskietkos afbreek en verteer nie. Kos wat maande in die grond kan lê voordat dit ontbind, kan binne dae deur insekte opgebruik word,” verduidelik sy.

“Insekte gaar goeie omega-3-vetsure op as hulle op afval uit visfabrieke teer, en gaar yster uit abattoir-afval op. Wan­neer insekte in dierevoeding omgeskep word, verhoog hulle weer die vetsuur- of ystersamestelling van die diere se vleis.”

Insekte as voedselbron

Die mensdom se groeiende vraag na bronne van proteïen is groter as wat boere uit bestaande dier- en plantbronne kan voorsien. “Insekte het die vermoë om hierdie gaping te vul en daarom is insekboerdery toenemend belangrik,” reken Woods.

Baie mense sal net weens die gedagte om insekte te eet, die neus optrek. “Dis veral mense met ’n Westerse ingesteld­heid wat so dink. Daar’s baie lande waar mense lank reeds insekte eet. Interessant genoeg word voorspel dat die bevolkingsgroei die hoogste gaan wees in lande waar mense juis reeds insekte eet,” vertel Woods.

Hy sê produkte wat vir die Westerse mark geproduseer word, soos ’n kriek-gegronde energiestafie uit Australië, bestaan gewoonlik nie uit heel insekte nie en word eerder as proteïenmeel en in maaltye waarvan dit slegs een van talle bestanddele is, gebruik.

Woods sê die smaak van ’n insek word bepaal deur wat dit vreet en hoe dit geproduseer word. Dit beteken die proteïenpoeier wat van venstervlieg­larwes gemaak word, is maar vaal van kleur en smaak en geurmiddels kan dus gemaklik bygevoeg word.

Sprinkane, sywurms en krieke bevat vyf keer meer antioksidante (wat die afbreek van die liggaam se selle keer) as lemoensap of olyfolie. Woods meen die ingeligte verbruiker wat weet van die voordele wat insek­meel en -poeiers inhou, sal gou oor die grilfaktor kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.