Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Borskanker kry vrou glad nie onder

“Hier staan ek voor jou. So, daar is altyd hoop. Ek is al agt jaar ’n survivor.”

Só vertel die 58-jarige Louisa Marra nadat borskanker in 2010 by haar gediagnoseer is.

Omdat Louisa ’n familiegeskiedenis van kanker het, het sy gesorg dat sy haarself jaarliks laat toets.

Toe Louisa in September 2009 vir ’n sonar van haar borste gegaan het omdat sy baie digte weefsel in haar borste het, het die toetse soos elke jaar negatief vir borskanker gewys. Sowat ’n maand nadat sy die toetse laat doen het, het Louisa ’n klein “irritasie” op haar tepel gekry, maar sy het haar nie veel daaraan gesteur nie.

“Later sien ek daar sit ’n rooi kolletjie so groot soos ’n kopspeld op my tepel. Die kolletjie raak al hoe groter en nadat ek salf aangesmeer het, het dit verdwyn. Oor Kerstyd het die seerplek weer begin uitkom. Ek smeer toe weer salf aan, maar toe wil dit nie weggaan nie.”

In Januarie 2010 vertel sy haar dogter van dié irritasie en sy moedig haar aan om ’n dokter te gaan spreek. Louisa gaan spreek toe ’n dermatoloog.

“Sy (die dermatoloog) het vir my gesê, ‘mevrou, ek moet nou eerlik met jou wees, dit is of ekseem, of dit is borskanker wat op die vel begin’. Sy het ’n biopsie gedoen en dit weggestuur. Die uitslae het ’n week daarna gekom. Dit was omtrent die langste week in my lewe.”

Nadat hulle haar meegedeel het dat dit borskanker is, het die dermatoloog vir Louisa ’n afspraak vir verskeie toetse gemaak. Die uitslae van dié toetse het gewys daar is verkalking oor haar hele bors. Dieselfde week is sy by die chirurg die nuus meegedeel dat sy vir ’n mastektomie moet gaan.

Die dokter het vir haar verduidelik dié soort borskanker wat sy het, versprei nie maklik nie, maar dat hy verkies om die kliere naaste aan die bors ook te verwyder, “want dit is waarheen die kanker gewoonlik versprei”.

Louisa het die chirurg se raad gevolg en besluit om met die mastektomie voort te gaan. Hy het haar ook gevra om te besluit of sy dadelik rekonstruktiewe chirurgie wil ondergaan of in ’n latere stadium.

“Voor ek die spreekkamer verlaat het, het die ontvangsdame vir my ’n kaartjie van Reach for Recovery gegee. Sy het my ingelig dat as ek enige vrae het, moet ek dié organisasie bel. Ek het die vrou gebel en lank met haar gepraat.”

Volgens Louisa wou sy eers die mastektomie ondergaan voor sy aan rekonstruksie dink. Louisa se operasie was suksesvol. Sy vertel dat ’n lid van Reach for Recovery het haar in die hospitaal besoek.

’n Week later sit sy in die chirurg se spreekkamer. Hy bel vir die uitslae van die kliere wat hy verwyder het en die toetse het getoon dat een van die kliere ’n aggressiewe kankergewas van 6 mm het. Verdere toetse het getoon dat sou sy chemoterapie en bestraling kry kan dit haar kanse om vir tien jaar kankervry te wees met 12% verhoog. Sy het dié geleentheid aangegryp en besluit om met die behandeling voort te gaan.

“My hare het met die chemoterapie begin uitval. Ek het besluit om alles af te skeer en selfs daai klein stoppeltjies wat oorgebly het, het uitgeval. Ek was heeltemal kaalkop.”

Volgens haar was haar ondersteunings­netwerk wat uit haar man, kinders, familie en vriende bestaan haar steunpilaar. Louisa vertel dat sy ook altyd positief te gebly het.

“Ek het altyd gedink ek kán hierdeur kom, want daar was ander wat daardeur gekom het. Die behandeling het gewerk... deur die genade. Die Liewe Vader is vir my goed en ek het nog baie om voor dankbaar te wees.

“Ek het besluit om vir my ’n lekker langtermynprojek te kry terwyl ek vir behandeling gegaan het. Ek het begin om ’n kombers vir my bed te hekel,” vertel sy. “As ek gegaan het vir chemo was ek aan die hekel en by die huis soek ek patrone. Ek het my daarmee besig gehou. Om positief te bly, is baie belangrik. Dit was ook wonderlike terapie om te skryf.”

In 2013 het sy vir ’n rekonstruktiewe operasie van ses uur gegaan.

“Ek was reg om dit te doen. ’n Mens moet reg wees, jy moet positief ingestel wees. En ek is baie bly ek het dit gedoen.”

Sedert haar diagnose het Louisa by Reach for Recovery betrokke geraak. Sy het die praatjies bygewoon en is gevra om ’n vrywilliger te word. Sy moes ’n kursus voltooi om te leer hoe om ander vroue, wat in dieselfde situasie as sy is, te bemoedig. Louisa hanteer vandag ook die Ditto-projek vir Reach for Recovery, wat silikoonprosteses aan staatspasiënte verskaf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.