Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Brandweerman onthou dekade later nog

Tien jaar ná die verwoestende brand by Paarl Print vertel die assistent-brandweerhoof, Dereck Peceur, wat hy van daardie dag kan onthou.

Peceur onthou daardie Vrydagoggend se spitsverkeer en die denke aan hoe gou hulle by die toneel kan kom.

“Toe ons daar aankom was dit chaos soos mense verward rondhardloop – mense wat huil; mense wat met vrae van magteloosheid rondstaan; beseerdes wat ons uit die gebou moes help; mense wat hardop bid. Die trauma van die voorval, die verslae kyke, hoop wat in wanhoop verander en met verloop van tyd ’n onwerklike realiteit word, bly ’n mens by,” onthou hy.

“En die families wat wag op ’n antwoord oor ’n geliefde elke keer wanneer jy buite die gevaargebied beweeg; brandbestryders wat keer op keer die gebou binnegaan om oorlewendes te soek.”

Hy vertel brandbestryding moes deurlopend plaasvind ongeag die wete dat die tragedie nie sy volle verloop geneem het tot die Saterdagoggend nie. Hy onthou ook die dominee wat die Saterdag saam met hulle gebid het.

“Dit is dinge wat ’n mens bybly. Gelukkig word dit met die goeie ondersteuning van my gesin draaglik en kan ’n mens voortgaan. Die wete dat jou beste nie die gewenste uitwerking gehad het nie, word oorskadu deur die wete dat die lewe nie in ons hande is nie. In sulke voorvalle word jou eie sterflikheid ’n werklikheid wat die soort dankbaarheid teweeg bring dat ons bevoorreg is om in die beroep te mag wees,” het Peceur gesê.

“Die emosie van wat plaasgevind het, word beter met tyd, professionele intervensie en deur ’n mens se geloof.”

Peceur dink ook terug aan hoe sy sewejarige seuntjie gewonder het of hy veilig is en ’n skets geteken het van sy pa wat ’n brand in ’n gebou bestry.

Volgens Peceur is die brand die Sondagaand 19 April uiteindelik heeltemal geblus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.