Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Brief aan Josef en Maria in die hemel

Aan: Josef en Maria, Poste Restante, Die Hemel.

Met die feesseisoen op hande kon ek nie help om te dink aan die genade wat ons gegun is nie. Genade kom in baie vorms en op baie maniere voor, altyd onverdiend, maar welkom vir die ontvanger. Dis soos om liefgehê te word ten spyte van jou tekortkominge.

Genade word soms soos ’n begroting beplan; hoeveel elkeen mag ontvang word gemeet aan hoeveel hy/sy daartoe bygedra het. Sulke genade het niemand nodig nie. Ons het egter iewers die idee gekry dat ons ons naaste mag kies, so ook om genade te betoon.

Petrus ken genade.

Die haan het gekraai, maar wat oënskynlik tot sy val gelei het, was ook sy geleentheid vir genade. Die vrou wat owerspel gepleeg het, het genade geken. “Laat die een wat sonder sonde is, dan die eerste klip gooi.” Die enigste een daar sonder sonde was Jesus, maar Hy het dit nie nodig geag om ’n klip op te tel nie.

Batseba het genade geken, hoewel haar eerste kind oorlede is, het sy die troonopvolger gebaar en nog drie kinders. Verleenthede wat geleenthede geword het, so is daar baie voorbeelde, in ons eie lewe en in die Woord.

Die bestuurder van ’n motor wat die ma en pa kolgans se twee babatjies ten aanskoue van ’n skare mense doodgery het, kom by my op. Wat gebeur in só iemand se kinderhart wat van hom só ’n grootmens maak? In sy truspieëltjie kon hy sien hoe mamma-gans weer en weer teruggaan om haar babatjies te gaan haal. Sy gee nie moed op nie, roep hulle, bemoedig hulle om op te staan en saam te kom, druk-druk met die snawel, stoot-stoot daar.

In enige mens of dier(?) se lewe kom daar ’n tyd wat jy met die werklikheid gekonfronteer word. Dis dan wanneer jy genade die nodigste het. Aanvaarding is ’n brug wat slegs met diepe smart en lyding oorgesteek kan word. Terugdraai bly ’n hunkering; vorentoe ’n doringpad.

Vir my is genade die dinge wat geld nie kan koop nie; om liefde te ontvang wanneer niemand geweet het hoe nodig jy dit het nie. Die glimlag van ’n vreemdeling, iemand wat jou wys hoe dit gedoen word wanneer jy sukkel, die boemelaar wat sê dat dit baie goed gaan met hom, ’n babatjie wat in jou arms ophou huil, ’n gekneuste blom uit die onhandige hand van ’n kind wat pas begin loop het, ’n oproep van iemand wat sê “ek het sommer aan jou gedink”, ’n drukkie van ’n vriend wat nie glo aan drukkies nie, ’n ma wat vir jou ’n warm, tuisgebakte broodjie bring wanneer jy na jou kinders verlang, ’n seun wat sê: “Jy is my lewe, Mams!”, my dogtertjie-vrou wat verrassingspartytjies vir haar Moekeloeks beplan, my geliefde wat my toevou in sy arms as hy sien dat ek uitmekaar val en bereid is om altyd, maar altyd, die stukke op te tel . . .

Ek het daaraan gedink om ’n dringende brief aan die hemel te skryf – aan Maria en Josef. Die dringendheid is daarin dat die brief sy bestemming moet bereik voor nog ’n jaar om is en ek later nie geleentheid sal kry nie; sommer om vir Josef dankie te sê dat hy ’n kind grootgemaak het wat nie syne was nie. Aan Maria kan ek nie dink sonder dat my hart in pyn saamtrek nie. Hier sterf jou kind vir mense wat hom in daardie tyd (ook so vandag) in elk geval nie aanbid het nie en ook nie in Hom geglo het nie. Jy sien hoe minag hulle hom, hoe word hy herhaaldelik en sonder ophou geslaan en geslaan. Daar word gesê dat die vrou vir wie Jesus van bloedvloeiing genees het, Jesus se gesig met haar eie kleed afgevee en tree vir tree saam met hom geloop het – waarlik ’n Swart Vrydag vir geregtigheid! Herhaal die geskiedenis homself wat vertrapping en vergrype betref, net meer gesofistikeerd en modern?

Genade word aan Maria gegun om ná die derde dag, toe sy by die graf was, haar kind weer te kon sien. Ons kry nie daardie kans nie, maar ons word nie gevra om ons kind te offer nie. Vir Maria sal ek in my brief sê dat ek jammer is – jammer omdat ek in 2018 haar offer nie altyd werd was nie; dat ek ’n deelnemer word aan ’n smart wat ekself nie wil hê nie, maar tog daagliks deur my optrede die teendeel leef. Ek sal ook ekskuus wil vra vir dit wat Kersfees 2 000 jaar later geword het en hoe maklik ons vergeet dat Iemand moes sterf sodat ons kan lewe. Ek sal ook wil hê dat sy vir Jesus ’n drukkie moet gee, al is Hy ’n huisvriend.

Daar waar hulle nou is, is onbekend aan my, maar genade, weet ek, het ’n woning daar. By my Dankbaarheidsboom hierdie Kersfees wil ek, wanneer dit my beurt is om my dankbaarheidsblare op te hang, ’n blaar ophang vir Josef en Maria. Ek sal graag die genade wat ek ontvang het, soos sade wil uitstrooi op my medemens, sodat hulle ook die guns kan ervaar wat begin het by ’n mislukte tuin, maar eindig by die Ewige Lewe, beskikbaar vir almal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.