Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Buurtwagte só versterk

Chicago is ’n perfekte voorbeeld van hoe bendegeweld die dorp teister. Dit is ’n oorlogsone en is heeltemal buite beheer.

Hieroor kan die Chicago-buurtwag getuig, want byna elke dag en nag word onskuldige mense geskiet en inwoners hiér word in hul eie buurt gyselaar gehou.

Maar word genoeg gedoen om misdaad in Drakenstein hok te slaan?

Die kwessie van buurtwagte en hoe goed hulle toegerus is om misdaad te help bekamp, was Maandag onder die soeklig toe Alan Winde, die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap, die Paarl besoek het.

Winde se besoek vorm deel van ’n provinsiale toer om oor gemeenskapsveiligheid te praat.

Van die kwelpunte wat uitgewys is, is dat sekere buurtwagte en veiligheidsinstansies toegang het tot moderne toerusting soos kameras, voertuie en radio’s, terwyl ander nie eens ’n flits het nie. Van almal word egter vereis om misdaad te bekamp.

Dit is ook duidelik gestel dat die verskillende buurtwagte se behoeftes verskil. Waar sommige vra vir nog voertuie en aandag op plaasaanvalle, voel ander buurtwagte hulle kry nie genoeg ondersteuning vir opleiding nie.

Buurtwagte is juis geskep om misdaad te beveg, inbrake te verminder en die verhouding tussen die gemeenskap en die polisie te verbeter.

Die buurtwaglede meen ook dat die meerderheid van die publiek nie verstaan hoe ’n buurtwag werk nie en dus is baie min mense bereid om hierby betrokke te raak.

Volgens Winde sal buurtwagte voortaan die hoogste op sy prioriteitslys wees.

“In die Wes-Kaap het ons van die beste buurtwagte in die land, maar as jy hier in Chicago rondstap en sien wat hier aangaan, besef jy dat daar baie werk is wat gedoen moet word,” het hy gesê.

Volgens hom het hy doelgerig die posisie as provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid opgeneem om misdaad hok te slaan.

“Dit is ’n groot fokus, of die grootste fokus wat ons moet hê oor die volgende paar jaar.

“Hoewel die vennootskap baie ingewikkeld is, sal gekyk word na hoe swak die oorsig en ondersteuning van die polisie is.

“Geweld raak net erger in ons land en dit tref ons arm mense die hardste. Dwelms en bendebedrywighede laat ons mense agterbly en hulle kry nie die kans in die lewe om hierdie nuwe Suid-Afrika te beleef nie,” het hy gesê.

Luidens ’n verklaring uit Winde se kantoor vererger misdaad in die Wes-Kaap en is 85% van die provinsie se polisiekantore onderbeman.

Verder het Winde gesê dit is duidelik dat die behoeftes en omstandighede van buurtwagte onderhewig is aan die gebied waarin ’n buurtwag geleë is.

Winde het gesê hy wil met die Drakenstein-munisipaliteit hande vat om die veiligheid van die gemeenskap te verseker.

Hy wil ook buurtwagte meer professioneel maak en almal op dieselfde vlak kry.

Conrad Poole, die burgemeester, meen Winde se finansiële agtergrond kan ’n aanwins wees deurdat hy geld, wat nie voorheen daar was nie, beskikbaar kan stel om aan hierdie visie te voldoen.

“Net soos ons die buurtwag wil versterk, wil ek gemeenskappe ook versterk,” het Winde gesê.

* Provincial Minister of Community Safety in the Western Cape, Alan Winde, visited Paarl where he met with neighbourhood watches to discuss the road ahead and how to combat gangsterism and crime.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.