Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
C-19 eis geliefde klerk, speurder

PAARL – Familie en vriende van ’n finansiële administrateur en ’n speurder probeer nog tot verhaal kom ná die skielike afsterwe van hul onderskeie geliefdes weens Covid-19.

Morrathan Abrahams (54), ’n toegewyde klerk van Charleston Hill Sekondêr, het Maandag 22 Junie sy stryd teen die virus verloor.

Volgens sy broer, Charles Davids, was hy ’n geruime tyd bedlêend met ’n siekte wat op daardie tydstip as griep beskou is.

Die Sondagaand het hy egter gesukkel om asem te haal en hy is hospitaal toe geneem.

Mediese beamptes by Mediclinic Paarl het hom onmiddellik na die Paarl-hospitaal verwys waar hy in die Covid-19-afdeling behandel is.

Morrathan het ’n hartaanval gehad en is die Maandagoggend dood. Die verwysing ná sy dood was dat hy wel Covid-19 onder lede gehad het.

As diabeteslyer was Morrathan veral kwesbaar vir die virus.

Sy vrou, Chantal (53), en hul twee seuns, Morrathan jr. (23) en Chad (17), is tans in selfafsondering by hul huis in New Orleans.

Morrathan se dood laat ’n groot leemte in die gange van Charleston Hill Sekondêr.

“Sy heengaan was baie skielik en onverwags en hy is iemand wat aan die einde van die dag baie toegewyd en passievol was oor die pligte wat hy moes uitvoer,” sê Edward Claasen, die skoolhoof.

Sy afsterwe kom ook as ’n groot skok vir sy drie susters en twee broers. Die pyn van hul ma, Frieda Davids, se dood in Januarie vanjaar lê steeds vlak, en nou, skaars ses maande later, moet hulle nóg ’n familielid groet.

Charles sê hy sal sy broer onthou as iemand wat altyd sy medemens wou help en bereid was om die ekstra myl te stap – nie net by die skool nie, maar ook as steunpilaar in die Calvynse Kerk.

Morrathan se skoonsuster, Arletta Pietersen, beaam dit. Sy het hom nie as net haar swaer beskou nie, maar wel as ’n broer wat sy al 34 jaar ken.

“Hy was iemand met etiket; altyd betyds. Hy was ’n man van God; ’n gesinsman wat alles in sy vermoë gedoen het om te verseker dat sy seuns alles kry wat hulle moet hê – op hul tyd,” vertel Pietersen.

“Sy ma was sy koningin en sy vrou was sy alles. Daar was nooit ’n oomblik dat hy vir enigeen nee sou sê tensy hy regtig nie kon nie. Sy woorde was altyd ek kom nou – wanneer, waar en hoe?”

Nóg ’n slag het Paarl-Oos getref met die heengaan van sers. Adrian Mouton (37), wat as speurder by die Bellville-speurtak gedien het.

Adrian is dood sonder dat hy sy ongebore baba kon ontmoet.

Sy vrou, Daneen (43), ook ’n speurder, is drie maande swanger. Sy is ook positief vir die virus getoets, maar het intussen herstel.

Adrian en Daneen het albei Covid-19 opgedoen en is in dieselfde hospitaal opgeneem. Maar toe sterf Adrian verlede Saterdag (13 Junie) sonder dat hy sy swanger vrou en hul seun Storm (11) behoorlik kon groet.

Adrian se ma, Helen Mouton-Lucas, beskryf hom as haar fris en gesonde jong man. “Hy was eintlik my steunpilaar,” voeg sy by.

Sy ontydige dood het die familie geskok gelaat, veral omdat hy geen onderliggende siektes gehad het nie.

“Hy was heeltemal gesond. Ek sou nooit dink dat hy my so gou sal verlaat nie; veral nie as gevolg van Covid-19 nie. Hy was so gesondheidsbewus en het ons sommer elke tien tellings ge-sanitise.”

Daneen, wat ook positief vir die virus getoets is, is Maandag 8 Junie in die Mediclinic Paarl opgeneem sodat sy gemonitor kon word omdat sy diabetes het.

Adrian het dieselfde dag grieperig begin voel.

Hy het hom die Dinsdag laat toets en die Donderdag het die toetsresultate bevestig dat hy wel die koronavirus onder lede het.

Adrian is Vrydag in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Paarl opgeneem.

Daneen, wat toe al uit die hospitaal ontslaan is, het haar man later die dag gaan besoek.

Adrian het nog sy hand gelig om vir sy vrou te waai. Saterdagoggend 09:30, minder as 24 uur ná haar besoek, is haar liefdevolle eggenoot oorlede.

Dit is die tweede keer dat Helen dié hartverskeurende pyn van ’n kind se dood ervaar het.

Sy moes verlede jaar ook Adrian se jonger broer, Ashrin (19), aan die dood afstaan.

“Ek verstaan dit net nie. Ek vat dit maar dag vir dag sodat ek hierdeur kan kom,” sê sy.

Cado Mouton sê sy wyle neef was ’n ambisieuse jong man in die fleur van sy lewe.

Adrian se kollegas by die Bellville-speurtak sê hulle sal hom onthou as iemand wat vriendelik was en altyd gereed om hulle met ’n grap of twee te vermaak.

Adrian word hierdie Saterdag (27 Junie) op Eselbank, naby Wupperthal, finaal ter ruste gelê in die dorp waar hy sy grootwordjare deurgebring het. Morrathan Abrahams se begrafnisreëlings sal in die komende week gefinaliseer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.