Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Daar ís hoop, sê kankerlyer

Elize Henn (74), by wie vier keer kanker gediagnoseer is, dra vandeesmaand die bekende pienk strikkie om borskanker bewustheid onder vroue te bevorder.

Die Wellingtonner deel graag haar storie om hoop aan ander te bring.

Elize erken sy was geskok toe borskanker vir die eerste keer in 2009 by haar gediagnoseer is. “Jy dink mos dit kan net met ander gebeur,” erken sy. Sy het toe ’n mastektomie ondergaan gevolg deur chemobehandeling. “Ek het goed aangegaan; ek het nooit siek geword van die chemo nie,” sê sy verlig.

Vyf jaar later het Elize ’n probleem met haar ander bors ondervind toe sy weer iets vreemds voel. “Dit het gelyk soos ’n vis se skub. En as ek my was dan val dit af en die volgende dag is dit maar weer daar,” sê sy.

’n Dokter het eers vir haar gesê dis ekseem, maar ’n paar maande later het sy op ’n klein gaatjie afgekom waaruit bloed geloop het. Elize is toe vir ’n tweede mediese opinie waar die onkoloog tydens ’n biopsie bevind het dat dit eintlik kanker is.

Sy het toe weer ’n mastektomie ondergaan, maar het nie behandeling gekry nie. Haar oë sprankel toe sy vertel van die medici by Tygerberg-hospitaal wat in hierdie tyd na haar omgesien het.

Elize het goed herstel voordat kanker weer aan haar deur kom klop het. Dié keer was dit haar oudste dogter, Saretta, by wie pankreaskanker in 2017 gediagnoseer is.

Elize het elke dag twee maande lank langs haar bed in die waaksaal gesit. Hier het sy weer begin swak word en dadelik vermoed dit is kanker.

“Ek het toe gevoel my kragte word minder en ek word moeg en ek verloor gewig, waarop ek vir die Here gevra het om my asseblief net deur te dra totdat ek vir Saretta verpleeg het en gesond het.”

Haar gebede is toe beantwoord, maar dit was nietemin ’n lang, uitdagende stryd wat sy teen rektumkanker moes voer. Die volgende jaar het sy die operasie en chemobehandeling ondergaan en haar stoma-sakkie gekry.

Aan die einde van 2018 het Elize weer gevoel daar is iets nie pluis nie – hierdie keer was die probleem by haar blaas. Die dokter het toe vasgestel daar is gewasse in die bekken, maar hulle kon nie daar opereer nie en haar slegs chemobehandeling gee.

Verlede maand het sy haar chemobehandeling voltooi. Elize sal wel vir verdere behandeling moet gaan wanneer haar liggaam sterk genoeg is.

“My niere het so bietjie ’n knou gekry, so ons wil eers die niere gesond hê en dan gaan ons die behandeling vorentoe bespreek.”

Elize praat met lof oor haar ondersteuningsnetwerk wat haar die afgelope 11 jaar aan die gang hou. Haar man, Christo (74), kinders, en kleinkinders en vriende beteken vir haar baie.

Haar mede-kankervriendinne is ook vir haar kosbaar. Hulle is ’n hegte groep vroue wat weekliks met mekaar in kontak is.

Selfs kennisse wat haar bemoedig, is ’n riem onder die hart.

“Ek sê elke dag: ek hou die Here baie besig. Sy genade, Sy krag, Sy hande wat my elke dag dra – jy moet baie sterk geloof hê en jy moet maar redelik vas aan die Here bly om staande te kan bly,” sê sy.

Elize se lewensfilosofie is dat positiwiteit baie belangrik is.

“Die Here het my geseën met baie krag en genade – en gesondheid. Ek het nooit siek, siek geword van die chemo nie.

“So ek is nog baie betrokke by my gemeenskap, ook by my kerk. Ek móét besig bly.

“Dit help nie om in ’n hopie te gaan sit nie. Hoe besiger ek is hoe beter is dit vir my.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.