Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dagga nie meer gagga in die Paarl
Bertie Gebhardt, die eienaar van die Nature's Farm


’n Daggaklub- en restaurant bekend as Nature’s Farmacy Co het onlangs in die oopte op die Sonstraalpad, aan die buitewyke van die Paarl, begin handel dryf.

Dit word boonop deur ’n Paarliet bestuur wie se oorlede pa eens ’n dominee en polisielid in die dorp was. Die eienaar en oud-Gimmie Bertie Gebhardt het dus van kleins af gehoor van dagga wat gagga is en dat hy van sulke dwelms moet wegbly.

Maar sy siening van aaptwak het handomkeer verander toe hy in 2017 ’n operasie ondergaan het.

“Hulle het my te veel narkose gegee en my hele lewer het opgepak,” vertel Bertie.

Hy het toe eendag iemand raakgeloop wat cannabis-pille aan hom voorgelê het. Dit maak glo die beskadigde selle dood en dan regenereer jou lewer nuwe selle.

“Toe, ewe skielik is [my lewensversekeraar] oop om vir my lewensversekering te gee. Voorheen het hulle gesê ek kan nie lewensversekering kry nie, want my lewer is dieselfde as dié van ’n alkoholis, want dit lyk soos nierversaking.”

Hy het toe meer en meer begin oplees oor die medisinale voordele van dagga en het selfs ’n kursus daarin in Amerika bygewoon.

Bertie, wat ook oor ’n meestersgraad in logistiek van die Universiteit Stellenbosch beskik, het later ’n dagga-klub-franchise in Hartebeestpoort ontdek wat wettig handel dryf en het summier besluit dat hy ook so ’n klub in die Paarl wou open.

Die klub in Hartebeestpoort is aan die franchisor One Culture National (OCN) geaffilieer.

Die eerste dagga-klub wat aan OCN verbonde is, het in Oudtshoorn wettig begin handel dryf kort ná die uitspraak van die konstitusionele hof in 2018 waarvolgens die gebruik van dagga, in ’n neutedop, wettig vir persoonlike en mediese gebruik is.

Hoewel daar steeds talle grys gebiede rakende dagga-gebruik is, is dit tans steeds onwettig om dit buite private eiendom te gebruik, sowel as om dit te koop en te verkoop.

So, hoe kan die klub wettig wees?

Bruce Fenthum, direkteur van OCN, sê hulle werk binne die wet deur ’n unieke groeimodel aan te bied vir lede wat hul eie privaat gekweekte dagga in private eiendom wil verbruik.

“Ons het ’n private sosiale klub gestig waar lede kan inkom, agter die toonbank kan gaan en die produk kan sien wat deur ’n gespesialiseerde boer vir hulle gekweek is, en hulle kan hul produkte gebruik asof hulle aan ’n gholfklub behoort. Dit is hoe ons dit vasgemaak het. Ons het ’n stokvel geregistreer, so ons maak dit wettig,” sê Bruce.

In wese het elke lid van die klub, onderhewig aan die sluit van ’n wettig bindende kontrak, ’n daggaplant wat namens hulle op ’n sekere plek gekweek word.

OCN onderhou sy bedrywighede deur ledegeld en intekengeld te hef en bied die partye ’n kontraktuele raamwerk om dagga veilig en wettig in watter vorm ook al in ’n private ruimte te gebruik.

Bertie sê hulle het seker gemaak hulle bly aan die regte kant van die gereg deur hul sakemodel aan senior polisielede voor te stel.

Trouens, gerespekteerde lede van die gereg is nou self lede.

Die grootste teenkanting wat hulle gekry het, was egter van (onwettige) kleinhandelaars wat gemeen het Nature’s Farmacy Co maak inbreuk op hul (onwettige) besigheid.

Sommige van hulle het later selfs by hul gemeenskap begin inkoop toe hulle begin besef enigiemand wat tot die klub se protokol instem, kan dagga begin verbou.

Nature’s Farmacy Co het sy deure in Julie vanjaar geopen nadat die Covid-19-inperking ’n stok in die wiel gedruk het. Nietemin het Bertie en kie later ’n unieke gaping in die mark gesien met die alkoholverbod wat in werking getree het.

Dit het die vorm aangeneem van nie-alkoholiese bier waarby dagga gevoeg is.

“Dit was die geleentheid om iets na die mark te bring wat alles geheel en al verander het. Histories het die Wes-Kaap ’n baie slegte reputasie weens alkoholverbruik – die hoeveelheid mishandeling, die hoeveelheid kinders wat verwaarloos word en fetale-alkoholsindroom.

“Dit was vir my maar net ’n alternatief om iets beter te bring.”

Bruce beaam: “Dit is my droom om One Culture-bottelwinkels reg oor die land by die klubs te hê wat drankies sonder alkohol sal verskaf.”

So ’n franchiseklub sal vroeg in Desember in Stellenbosch open, maar anders as die Paarl-tak, sal dit slegs vir lede toeganklik wees.

Bruce gaan voort: “As ek sou sien dat alkohol uit die samelewing verwyder word en ons dit kan instel, glo ek dat One Culture die voorloper kan wees vir die oplossing van ’n vrot samelewing.”. The first legal dagga club has opened in Paarl.

Meer oor:  Paarl  |  Cannabis  |  Nature's Farmacy  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.