Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
De Poort en munisipaliteit maak vrede

“Die verhouding tussen De Poort-erfenissentrum en die munisipaliteit is tans goed,” het dr. Cas van Wyk, die nuwe voorsitter, gesê.

Hy het gepraat by die jaarvergadering van De Poort in Suider-Paarl, waar die munisipale bestuurder, dr. Johan Leibbrandt, ook ’n spreker was.

Die nuwe era van samewerking volg op ’n periode waarin De Poort die munisipaliteit voor die hof gedaag het omdat die munisipaliteit glo ingemeng het by die bestuur van dié sentrum. De Poort het die hofsaak gewen.

By die jaarvergadering het dr. Leib­brandt aangedui die munisipaliteit wil graag ’n nuwe ooreenkoms met De Poort aangaan, sodat geld bestee kan word aan die beplanning van ontwikkeling van die terrein vir geriewe soos ’n toeriste-sentrum. Volgens Leibbrandt is die terrein uitstekend geleë om as “gateway” tot die Paarl te dien, met die klem op toerisme en erfenisbewaring. “Tans ontvang De Poort geen munisipale finansiering nie en daar kan dus geen ontwikkeling gedoen word nie.”

Volgens Leibbrandt is dit belangrik om ’n ooreenkoms te bereik, “want konfrontasie los niks op nie en ons trap net die gras dood”. Hy sou graag wou sien dat De Poort se bestuur ’n ooreen­koms sluit met die munisipaliteit, sodat daar aanbeweeg kan word om die toerismepotensiaal van die Paarl te ontsluit, met die direksie van De Poort as advieskomitee. Hy het uitgewys dat die munisipaliteit net geld kan uitgee indien hy beheer oor die grond het.

Volgens Leibbrand het die munisipaliteit reeds R750 000 vir beplanning van ontwikkeling van die terrein begroot, met toerisme en erfenis as pilare. Daar kan ook moontlik ’n vennootskap met die private sektor aangegaan word. “Enigiets is moontlik. Laat ons hande vat en vorentoe beweeg.” Hy het beklemtoon die munisipaliteit wil nie die bestuur van die terrein oorneem nie, maar wil wel verseker dat ’n geïntegreerde plan vir die terrein opgestel word wat ook die oorkoepelende behoeftes van Draken­stein in ag neem.

Raadslid Muis Miller (burgemeesters-komiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme) het Leibbrandt ondersteun en beklemtoon toerisme het ’n groot invloed op die ekonomie en lei tot werkskepping. “ ’n Verbeterde infrastruktuur sal meer besoekers lok,” het hy gesê.

Inwoners wat die vergadering bygewoon het, het daarop gewys dat hulle De Poort graag wil behou as ’n gesonde ontspanningsplek vir die jeug. Die Visarende jukskei-klub huur nou weer ’n deel van die terrein waar die klub in 1939 ontstaan het. Dié sport het ’n geskiedkundige band met die wa-bedryf en dateer uit die 17de eeu.

Volgens dr. Van Wyk is die lekkende dak van die sentrum, wat ’n wa-versameling bevat, wel die afgelope jaar herstel, danksy ’n anonieme skenking van R50 000. Daar is ook ’n staproete om die terrein gebou en die publiek word genooi om geld te skenk vir die oprigting van herinnering-sitbanke langs die roete. Daar is reeds ’n bank opgerig ter herinnering aan wyle Johan Burger, die kunstenaar wat die uitstallings in die wa-museum ontwerp het. Mense wat ’n bank wil borg vir R600-R900 kan dr. Van Wyk by 021 863 1046 bel of stuur e-pos aan depoortheritagevillage@yahoo.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.