Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
De Poort woeker met talle planne

Die bestuurspan van De Poort het die afgelope sewe maande agter die skerms gewoel en gewerskaf om verskeie planne in werking te stel om binne die volgende drie tot vyf jaar ’n unieke toerismesentrum te vestig.

Dit sal talle voordele vir die Paarl en sy gemeenskap inhou.

Daar is intussen met ’n nagmark begin waar kuns en handwerk verkoop kan word.

Dirk Breytenbach, voorsitter van De Poort, het gesê verskeie byeenkomste wat gedurende die jaar op die terrein sal plaasvind, is reeds bespreek en die jukskeibaan wat reeds in 1939 gebou is, is opgeknap vir gebruik deur die jukskeigemeenskap.

Die Visarende-klub maak nou gebruik daarvan en beoog om bane op plase in die omgewing vir plaaswerkers te vestig met die doel om liggaamlike en geestelike fiksheid te bevorder.

Die doel is ook om vriendskappe tussen verskeie gemeenskappe te smee om die Paarl ’n plek te maak waar al sy inwoners tuis kan voel. Spanne van die plase sal by toernooie betrek word om inklusiwiteit te bevorder en die positiewe ervarings van jukskei met die belangstellendes daar te deel.

Breytenbach het gesê De Poort se direksie is verbind om van die plek ’n unieke bestemming vir plaaslike en internasionale toeriste te maak waar verskeie erfenisse van die omgewing uitgebeeld sal word en van waar besoekers ’n verskeidenheid van toere en roetes kan aanpak.

Daar is reeds vir ’n geruime tyd ’n boekklub, brugklub, hondestapklub asook ’n tuinbouklub en binnekort sal ’n volwaardige restaurant op De Poort open. Dit sal gehaltekos en verversings voorsit vir besoekers wat in die rustige omgewing wil ontspan.

Verder het Breytenbach gesê daar is ook die afgelope maande verskeie samesprekings met die Drakenstein-munisipaliteit gevoer. Dit was om nouer samewerking met De Poort te bewerkstellig en om sekere aksies van Paarl Toerisme en inisiatiewe van die Drakensteinse plaaslike toerisme­vereniging te probeer konsolideer om duplikasie van gelyktydige pogings en finansiering te vermy. Die direksie van De Poort ondersteun alle inisiatiewe wat sy missie en vooruitgang kan bevorder.

Belangstellendes kan Dirk Breytenbach by 074 599 8996 of Helené Bestbier by

076 779 9228 bel vir meer inligting.

* Onlangs het Pierre Malan van Malan-plaas in Oakdene, Wellington, ’n nuut gerestoureerde molwa en tipkar aan De Poort geleen vir langtermyn­bewaring en -uitstalling.

Die molwa is oorspronklik in 1931 deur S.H. Ehlers en Seuns in Wagen­makersval­lei, soos Wellington toe bekend gestaan het, vervaardig. Dit was die tydperk toe rubberwiele die tradisionele staal-en-hout-wiele begin vervang het en die spesifieke wa het dus rubberwiele.

Dit is ’n welkome toevoeging tot die huidige versameling by De Poort.

Die wa is gedryf en versorg deur Welkom Dampies wat destyds baie trots was op die toestand daarvan.

Die ander wa is ’n skotskar of tipkar soos die spesifieke model bekend gestaan het.

Dit is in die 1800’s vervaardig en is ’n tipkar genoem omdat die bak met ’n pen ontkoppel kon word sodat druiwe of bemesting vinnig afgelaai kon word.

Die wa is gedryf en versorg deur Abram Cupido, ook bekend as Appie.

Die bestuur van De Poort het gesê hierdie gebaar van Malan word waardeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.