Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Diefstal kos boere duisende

Skrootmetaaldiefstal, wat vir veral die sake- en landbousektor tot skade van derduisende rande lei, is buite beheer en geen stappe word skynbaar deur owerhede gedoen om dit te bekamp nie.

Paarl Post het onlangs met plaaseienaars uit verskeie areas in die Drakenstein gepraat oor hoe hulle beïnvloed word. Almal het saamgestem dat dié soort misdaad byna daagliks voorkom.

“Net sodra iets vervang is, word dit onmiddellik weer gesteel,” vertel een vrou. Boere het die afgelope drie weke erg deurgeloop in ’n nuwe vlaag diefstalle.

Een man vertel verdagtes steel wat ook al hulle in die hande kan kry. Hy noem onder meer motorbande en -wiele op, asook kabels en pale wat boere in die landbou gebruik. Hy vertel een van sy bure het grondbesetters met pale wat aan hom behoort, betrap kort nadat dit gesteel is, maar die polisie het hom in kennis gestel dat hy nie kan bewys dat dit sy pale is nie. Die polisie kon hom dus nie help nie.

Verder sê die man die diewe steel selfs plastiese druppype.

“Dit kos sowat R10 per meter. Daar is twee of drie maande gelede 81 sulke rolle gesteel. Die skade was om en by R30 000,” vertel hy. Hy sê hy weet nie wat die diewe met die gesteelde plastiek doen nie.

’n Vrugteboer vertel hy word daagliks erg geraak. “Ons ly verskriklike skade en verliese en dit is nie net ek nie; baie mense word geaffekteer,” sê hy.

Die man se pomphuis is beskadig deur diewe wat munisipale kabels tot by sy pomphuis gesteel het. Hy moet in Augustus begin besproei, vertel hy, maar word nou verplig om te wag tot die munisipaliteit die skade herstel het omdat net hulle aan kabels mag werk.

Nog ’n plaasbewoner in Klein Drakenstein vertel skrootdiewe het op 25 Junie ’n elektrisiteit-stroombreker uit ’n munisipale kragboks naby haar huis gesteel, maar enkele dae nadat die munisipaliteit dit vervang het, is dit weer gesteel. “Hulle steel verskriklik hier by ons en ek glo vas dit is ’n sindikaat,” vertel sy. Sy sê ook die bokse is met swak slotte beveilig en moet hoër vasgesit word waar boewe dit nie maklik kan bykom nie.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie is bewus van die hoë voorkoms van skrootdiefstal op plase in die Paarl. “Dit is trouens ’n groot probleem in die hele provinsie. Diefstal op plase in die algemeen, soos vee- en produkdiefstal, is ook ’n groot probleem,” voeg hy by.

Hy sê ’n ondersoek wat Unisa en die Buro vir Marknavorsing in 2018 in opdrag van Agri SA gedoen het, het gewys die topvyf plaasmisdade in die Wes-Kaap is eerstens diefstal van infrastruktuur, dan diefstal van plaastoerusting, opsetlike saakbeskadiging, diefstal van vee en vyfdens diefstal van vrugte, wat in die Paarl-omgewing ook ’n groot krisis is.

“Al hierdie misdade kos die produsent en die landbousektor elke jaar miljoene rande, nie net om noodsaaklike infrastruktuur soos krane, pompe en pype te vervang nie, maar ook aan oeste wat skade ly omdat kritieke besproei­ing­siklusse onderbreek word,” sê Strydom.

Die Paarl-polisiekantoor se waarnemende bevelvoerder, kol. G.J. Braaf, het by navraag gesê die polisie, sekerheidsmaatskappye en plaas- en buurtwagte werk saam om diefstal van nie-ysterhoudende metale te bekamp.

“Weeklikse inspeksies word by skroothandelaars gedoen. Wanneer verdagte verkopers geïdentifiseer word, word ’n [opvolgondersoek] gedoen,” sê Braaf. Hy verduidelik ook skroothandelaars is ingevolge die wet verplig om behoorlik rekord te hou van alle transaksies wat gedoen is en hy sê hierdie rekords word tydens weeklikse inspeksies gekontroleer.

“Daar is goeie samewerking tussen die polisie en die skroothandelaars, want hulle rapporteer verdagte verkopers. Verder is handelaars ingevolge die wet verplig om enige verdagte verkopers te rapporteer,” sê Braaf. . An increase in metal theft, affecting businesses and the agricultural sector in particular, is causing thousands of rands in damages. The situation is out of control and little action is apparently taken to curb the trend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.