Covid-19 het dalk vanjaar baie dinge in hul spore gestuit, maar gewis nie die bekende Paarl-feesmark wat jaarliks in die Paarl-stadsaal gehou word nie.
Vanjaar is die 11de keer dat die feesmark aangebied word en dit word van 23 November tot 5 Desember gehou.
Die mark is die eerste twee jaar in die Strooidakkerk se saal gehou, maar met die groot belangstelling en sukses van die mark moes dit na die Paarl-stadsaal verskuif word.
Margie du Plessis, die fees-koördineerder, sê ’n besluit is verlede jaar geneem om die naam van die feesmark van die Strooidakkerk-feesmark na die Paarl-feesmark te verander en so ook blootstelling te gee aan die dorp met al die besoekers wat die mark bywoon.
Volgens Du Plessis is sowat 180 uitstallers op die mark en van hulle kom van so ver as die Suid-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng. Sy sê sy ontvang baie meer aansoeke vir stalletjies as wat die stadsaal kan huisves en hulle is baie deeglik met aansoeke en verwag dat produkte van die hoogste gehalte is.
“Ons visie vir die toekoms is om die mark te vergroot, maar ons het nie ’n saal wat ons kan huisves nie, dus bly dit maar ’n probleem om verder uit te brei.”
Sy sê ’n konstante vloei van mense is die afgelope paar dae ervaar en hulle sien toe dat die mark nooit oorvol is nie ten einde die Covid-19-protokol na te kom.
“Ons wil baie graag hê alle inwoners moet ons mark kom besoek. Hier is iets vir ’n ieder en ’n elk om te koop. Hier is baie bekostigbare artikels en ’n mens kan sommer al jou Kersfeesinkopies hier kom doen – alles onder een dak.”
Die mark is weeksdae van 09:30 tot 19:30 en Saterdae van 09:00 tot 15:00 oop. . Bel die organiseerder, Margie du Plessis, by 072 229 8396 of stuur ’n e-pos-navraag na paarlfeesmark@gmail.com vir nog inligting.