Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Draf saam in depressie-stryd

Die Sanlam-Kaapstad-marathon word Sondag 15 September beslis en dit gee jou die geleentheid om nie net aan Afrika se enigste marathon met IAAF Gold Label-status deel te neem nie, maar terselfdertyd geld vir die Ithemba-stigting in te samel.

Hierdie marathon is een van die stad se mooiste wedlope, maar jy hoef nie ’n superatleet te wees om deel te neem nie – jy kan ook aan die 10 km-vredesloop of -draf deelneem, en dit om ’n baie goeie doel te ondersteun.

Ithemba is die enigste liefdadigheidsinstelling vir geestelike gesondheid wat by die marathon geaffilieer is, dus word hierdie geleentheid gebruik om #run4change for #ithembafoundation te bevorder.

Die Ithemba-stigting is geskep vir die bewusmaking van en verdere studies oor depressie wat in die hedendaagse samelewing ’n verwoestende uitwerking op gemeenskappe het. Ithemba, ’n organisasie sonder winsbejag, se doelwitte is duidelik: Om bewustheid rakende depressie (en verwante geestesongesteldheid) as ’n kliniese, biologiese siekte te verhoog en geld in te samel om navorsing te ondersteun.

Studies toon depressie is die derde grootste siekte wêreldwyd en sal teen 2030 die grootste wees.

Volgens statistieke ly bykans 350 miljoen mense wêreldwyd aan kliniese depressie, terwyl bykans een miljoen per jaar hul eie lewe neem.

Die jaarlikse ekonomiese koste van depressie as gevolg van afwesigheid en onproduktiwiteit is geweldig. In ’n Suid-Afrikaanse studie is bevind dat mense met depressie gemiddeld 18 dae as gevolg van hul siekte afwesig is.

Bewusmaking oor die siekte en die verwoestende gevolge daarvan is dringend nodig om te verseker dat pasiënte meer hulp kry en om vroeër hulp te kry.

Een statistiek dui daarop dat depressiewe pasiënte tot tien jaar wag voordat hulle hulp soek.

Geestesongesteldheid kan met bewusmaking normaliseer en humaniseer, en met ’n verandering in gesindheid kan meer mense hul siekte hopelik deur medikasie en terapie bestuur.

As gevolg van die ongemak in die samelewing oor psigiatriese siektes en die potensiële noodlottige gevolge daarvan, bly dit siektetoestande wat agter onkunde versteek word.

Navorsing is nie naastenby op dieselfde vlak as vir ander siektes nie, en dus word meer studies dringend benodig.

Die koste van depressie weens onproduktiwiteit en afwesigheid vir maatskappye styg op ’n jaarlikse grondslag. Volgens navorsing is dit die oorsaak van 47% mense wat vroeg aftree en 32% wat siekteverlof gebruik. Meer Suid-Afrikaners ly aan ’n psigiatriese siekte as enige ander chroniese siekte, maar vrees, diskriminasie, verkeerde inligting en onvoldoende behandeling verhoed dat mense behandeling kry.

As biologiese siekte met geestelike en fisieke simptome het depressie ’n al meer verlammende uitwerking op individue en gemeenskappe, en dit neem toe. In die WGO se eerste omvattende verslag oor selfdood is bevind dat dit in Afrika tussen 2000 en 2012 met 38% toegeneem het – die meeste onder die jeug. In Suid-Afrika is selfdood een van die grootste oorsake van dood onder die jeug.

Depressie moet openlik bespreek word – dit is net soveel ’n biologiese siekte en dus “wettig” soos enige ander, maar wat nog belangriker is, is dat die boodskap moet wees dat dit behandelbaar is. Bron: Ithemba-stigting

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.