Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Drie skote in die nag . . .

Op die ysige wintersaand van 9 Julie 1926, presies 93 jaar gelede, het ’n voorval plaasgevind wat die Paarl vir maande daarna nog tot stilstand geskok het.

Presies twee minute oor agt daardie reënerige Vrydagaand het ’n motortjie voor Hoofstraat 223 – destyds die ou tronk en poskantoor – stilgestaan.

Agter die stuurwiel was HC “Rocco” de Villiers, die balju van die Paarl. Op die agtersitplek het die 22-jarige Tommie King, sy assistent en flink rugbyspeler van die dorpspan, gesit. Net ’n paar jaar tevore was hy spankaptein vir die Hoër Jongenskool. Die man wat langs hom gesit het, was ’n bonkige Australiër, John MacDonald, ’n skrynwerker by Elsenburg.

De Villiers en King het McDonald tien minute voordat hulle daar aangekom het by die Hugenotestasie in hegtenis geneem met ’n lasbrief teen hom vir die misdaad van “gyseling”, wat toe die oortreding van uitstaande skuld was. Van die stasie af is hulle reguit tronk toe met hom.

En toe skeur drie rewolwerskote die winternag. MacDonald het De Villiers trompop agter die stuurwiel doodgeskiet. King het probeer uitspring, maar die derde koeël het hom aan die kant van die kop getref en het agter sy regteroog verby geskeur en bokant sy neusbrug tot stilstand gekom.

MacDonald het uit die motor gespring en suidwaarts gehardloop voordat hy weggeswaai en met Patriotstraat af gevlug het.

De Villiers is op die sypaadjie dood; King het oorleef. Daar was twee ooggetuies – een was ’n timmerman, wat slegs as Cupido bekendstaan, en MacDonald herken het.

Die volgende oggend is MacDonald by sy woonstel bokant die ou Brittania-winkel in Lady Greystraat in hegtenis geneem en saam met landdros Borcherds na King se hospitaalkamer geneem. King het hom dadelik herken en ’n verklaring afgelê waarin hy MacDonald as die skieter uitgewys het.

King het nog 14 dae geleef voordat hy skielik op 23 Julie verswak het en dood is. Sy begrafnis, wat teen die heining agter die Strooidakkerk gehou is, was een van die grootste wat die dorp nog beleef het. Die gemeenskap was woedend oor die voorval wat beskryf word as “Die Pêrelse tragedie”.

MacDonald se verhoor voor regter Twentyman Jones en twee assessore het 24 September 1926 in die ou hofgebou van die Paarl begin. MacDonald het hoog en laag gesweer dat hy onskuldig is en het gevra waar die vuurwapen is. Dié is, toevallig, tot vandag toe nog nie gekry nie. Dalk lê daar iewers in ’n huis in die Paarl ’n ongelisensieerde ou erfstuk wat ’n oupagrootjie op die rivieroewer opgetel het; dalk lê dit onder die slik van die rivierbedding . . .

Niemand weet nie.

MacDonald is drie dae later – op 27 September – skuldig bevind en ter dood veroordeel. Hy het steeds sy onskuld bepleit toe hy skaars twee maande later – op 29 November 1926 – halfsewe die oggend in die tronk in Roelandstraat, Kaapstad, gehang is.

Vandag is die stoeptrappies van die ou poskantoor nooit stil nie. Die gelag van kinders klink op van die kleuterskool wat nou daar is en in die prokureurskantoor langsaan lui die fone. Die seuns van Boishaai stap met knarsende rugbystewels en streeptruie, soos wat Tommie King ook eenmaal gedra het, daar verby.

Dis net wanneer die winteraand stil word en jy vertoef onder die akkerboom op die hoek van Patriotstraat dat jy jou drie skote in die nag kan verbeel, en die wegsterwende voetstappe van ’n man wat vlug. En baie, baie saggies bring die aandwind soms Tommie se laaste woorde aan die ou landdros daardie Saterdagoggend so lank gelede; “£5, Oom. Vir £5 het hy my geskiet.”• In 1926 an Australian shot two men, HC “Rocco” de Villiers and Tommy King, in cold blood in front of the police station in Main Road in a case that shocked South Africa. The story is told on its 93rd anniversary coming up.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.