Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eileen skenk steeds op haar verjaardag

Die meeste jong mense maak ’n baie groot ophef van hul verjaarsdag en verwag dan ook dat hulle met ’n oorvloed geskenke bederf word.

Die 28-jarige Eileen van der Watt verkies egter om eerder op haar verjaarsdag te gee as te ontvang.

Dit is presies wat sy doen. Eileen het Maandag 4 Februarie die sesde agtereenvolgende jaar lekkergoed en skenkings vir die Andrew Murray-kinderhuis in Wellington geneem om haar verjaardag te vier. Sy het haar 28ste verjaarsdag Sondag (3 Februarie) gevier.

Eileen, wat in Strand woon, sê sy hou jaarliks ’n insameling van “wat ook al mense nie gebruik nie” en skenk dit aan die kinderhuis. Sy het dié jaar twee waentjies vol items ingesamel wat die kinderhuis kan gebruik of vir ekstra geld kan verkoop.

“Ek het die spesifieke kinderhuis gekies omdat my kerk eers ’n uitreikprojek hier gehad het,” sê sy.

Eileen vertel haar ma, Yvonne van der Watt, was ook as kind in ’n kinderhuis voordat sy aangeneem is. Sy sê die situasie waarin dié kindertjies is, lê haar dus na aan die hart. “Vandag kry hulle elkeen twee kolwyntjies,” sê sy trots.

Eileen het deur middel van borge vir die kinders kolwyntjies, partytjiepakkies met 17 items in, ysies en koeldranke ingesamel.

“Ek doen dit want dit is lekker om terug te gee en ek voel ’n mens móét teruggee,” sê sy. Sy vertel ook hoe dankbaar hierdie kinders is. “Hulle sê nie net eenkeer ‘baie dankie’ nie!”

Een van haar ondersteuners wat vervoer vir die dag gereël het, Eddie de Gouveia, sê hulle doen dit nie vir die reklame nie maar eerder uit liefde en om ’n werklike verskil te maak.

Eileen sê sy versamel nou reg deur die jaar items om op haar verjaardag vir die kinderhuis te skenk.

“Ek laai meestal die items self op, maar wanneer ek nie kan nie, tref ek reëlings dat dit gedoen word,” sê sy.

Sy het onlangs ’n stoorkamer gehuur waarin sy alles stoor totdat dit tyd is om te gaan aflaai.

Mense wat iets wil skenk, kan Eileen by eileenvdwt @yahoo.com kontak. *Strand resident Eileen van der Watt visited the Andrew Murray Children’s Home for the sixth year in a row for her birthday. Every year she donates sweets and cupcakes as well as items the home can sell for extra money. She celebrated her 28th birthday on Sunday 3 February.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.