Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Fotograaf wil aanlyn klasse uit Amasone-woude bied

Johan Dempers, wat 15 jaar gelede saam met sy destydse span op ’n warrelwind reistog deur die Amesone-reënwoud in Suid-Amerika geroei het, beplan om weer in Augustus vir twee maande dié tropiese woud aan te durf.

Dié Wellingtonse fotograaf en sy span beplan om hierdie keer klasse aan studente op hul aanlyn webtuiste aan te bied. Die klasse gaan vanuit ’n wetenskaplike, tegnologiese, ingenieurs- en wiskundige invalshoek aangebied word.

“Ons gaan byvoorbeeld ’n hommeltuig gebruik om die hoogte van ’n boom te meet en ons gaan ook van hernubare energie soos sonkrag gebruik maak. Daarom behoort die wisselwerking tussen die moderne toerusting en die natuur interessant te wees,” het Dempers gesê.

Dempers het vertel dat dit sy meisie, Muldene Holloway (32), was wat voorgestel het dat hy vir ’n tweede keer die wilde Amasone-reënwoud invaar.

Nou, drie maande later is hy en sy span, waarvan Holloway nou deel is, aan die woel om betyds gereed te wees wanneer hulle in Brasilië se Acré-provinsie aanland.

Holloway ly aan ’n seldsame velsiekte, psioriase, wat veroorsaak dat haar vel se selle te vinnig vermeerder.

“Ek gaan onder meer woud toe om natuurlike medisyne te soek wat dalk kan help om my simptome te verminder,” het Holloway gesê.

Die ander twee spanlede wat die reis gaan aanpak, is die veteraanverkenner, Joe Brooks (79), en Hennie van Rooyen (47).

Brooks het Dempers met die vorige reistog vergesel toe hulle die Amasone saam met hul destydse span in 2002 aangedurf het. Hulle het toe sowat 1 000 km in ’n kano afgeroei op die Joroarivier waar hulle daar vir ’n tyd deur Indiane ontvoer is.

Dempers het vertel dat hulle aanvanklik gedink het dat die Indiane van hul besittings gesoek het.

“Toe gee ons vir hulle ’n paar goeters, maar hulle wou ons steeds nie laat gaan nie. Tot vandag toe weet ons nie hoekom hulle ons gyselaar gehou het nie,” het Dempers gesê.

Gelukkig het die polisie ’n wenk ontvang en hulle uit die Indiane se “reservaat” kom red.

Dempers glo die opkomende tog gaan gladder verloop omdat tegnologie oor die afgelope 15 jaar verbeter het.

“Ons het nie daardie tyd iets soos Google-kaarte gehad nie, daarom moes ons ’n wit-en-swart GPS tesame met handkaarte gebruik om ons roete te navigeer,” het Dempers gesê.

Hierdie keer gaan hulle ook ’n basis bou wat as spilpunt vir hul verkenningstogte gaan dien.

Hy het gesê mense romantiseer dikwels die reënwoud.

“Meeste mense sal dit egter nie daar uithou nie. Dit is ’n onvriendelike plek waar byna alles jou wil doodmaak,” het Dempers gesê.

Hoekom dan weer gaan?

Volgens die avonturier keer hy terug na die ongerepte Amasone omrede daar plekke in die woud is waar geen mens nog ’n voetspoor gelaat het nie. “Dit gaan oor daardie onbekende faktor.”

*Belangstellendes kan gerus die span se webtuiste by www.expeditionearth.info besoek

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.