Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gansbaai-boetie en sussie verdrink saam

GANSBAAI - ’n Boetie en sussie van Gansbaai het die afgelope Sondag tragies hul lewe verloor toe al twee saam in ’n plaasdam buite Gansbaai verdrink het.

Brig. Donovan Heilbron, bevelvoerder van die polisie in die Overberg-distrik, sê Dameon de Vries (7) en sy sussie, Kaylee (5), het op die wal van die dam gaan speel toe hul ouers ’n middagslapie geneem het. “ ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Ons kon op hierdie tydstip vasstel dat die twee op die wal gespeel het en toe in die water beland het. Ons kan bevestig dat die twee kinders se ma nie lekker gevoel het nie en gaan slaap het; die pa het ook aan die slaap geraak, en dis toe die twee buite gaan speel het,” sê Heilbron.

Die Laerskool Gansbaai het sy medelye met die twee se ouers, grootouers en familie in die moeilike tyd uitgespreek.

Alana Louw, Dameon se gr. 1-onderwyseres, vertel hy was ’n pragtige sproetgesig-rooikoppie. “Hy het altyd as hy skaam was, sy kop so skuins laat sak en ’n wye haasbekkie-glimlag gegee. Iets wat ek nooit van hom sal vergeet nie, is sy hulpvaardigheid – hy wou almal altyd so graag help en sou homself tekort doen om sy maatjies te help.

“As hy eers so agteroor in sy stoel gaan lê het, kon jy maar weet, hier kom ’n storie wat die hele klas gaan laat skater,” sê Louw.

Sy vertel in die 30 jaar wat sy al skoolhou, is dit die eerste keer dat sy met die dood van een van haar leerders gekonfronteer word.

“Dis seker die moeilikste iets wat ’n juffrou – ’n grondslagfase-juffrou – kan tref; om die volgende dag al die sorgvrye gesiggies te sien en nie te weet hoe dra ’n mens sulke nuus oor nie.

“Dameon, jou plekkie is leeg in ons klas, maar jou omgee sal ons elke dag lewendig hou in die klas en gereeld al die mooi herinneringe uithaal en met mekaar deel. Liewe Jesus het jou gekies om nou daar in die hemel hulpvaardig te wees en ek weet jy geniet dit reeds daar,” sê Louw.

Iemand naby aan die familie het bevestig die twee kinders se ouers is “nog nie reg” om kommentaar te gee oor wat presies gebeur het nie.

Janine Taylor van die Wie maak vir Gansbaai lekker- Facebook-blad sê die twee kinders se dood het almal geweldig geruk.

“Ons het Maandag tyd saam met die gebroke ouers deurgebring en daar is ongelukkig nie geld vir kissies en ’n verassing nie. So, ek wil graag vra of iemand sal kan help dat ons die gesin kan help met die begrafnis en van hul stres minder kan maak.

“Ek wil vra dat julle hierdie gesin in jul gebede sal opdra. Die ouers is stukkend en sukkel ook met erge selfverwyt. Niks wat ons nou sê, kan die pyn verminder nie, maar ons kan van hul stres verminder deur hulle nou in ’n baie moeilike tyd by te staan,” sê Taylor op die Facebook-plasing.

. Enigiemand wat ’n bydrae wil gee, kan Janine Taylor by 082 499 0222 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.