Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geliefde Paarl-dokter sterf

Die geliefde Paarlse dokter, Viktor Styger, wat 32 jaar in die Paarl gepraktiseer het en ook ’n Boishaai-dokter was, is Dinsdag 6 Oktober in N1 Stad Netcare-hospitaal, Kuilsrivier, oorlede. Hy was 79.

Maagkanker is vroeër vanjaar by Styger, wat ná sy aftrede in Hermanus gewoon het, gediagnoseer.

Styger en Eldorette het sedert 2008 in Hermanus gaan woon waar hulle, soos in die Paarl, ’n groot rol in die gemeenskap gespeel het. Styger het kort ná sy aftrede as locum daar begin werk. Hy het sy mediese graad in 1969 aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hierna het hy in eMalahleni (Witbank) begin praktiseer en daarna in Alexanderbaai.

Styger het hom in 1976 by die bekende dr. Snow Jordaan in die Paarl aangesluit. Ná Jordaan se dood het Styger die geliefde Boishaai-dokter geword. Die praktyk is destyds deur ’n unieke span beman: Vic, Dick en Nick (Styger, Wagner en Davin.)

Hy het sy praktyk in die laat jare tagtig na sy eiendom op die hoek van Rose- en Hoofstraat verskuif met dr. Danie Botha as vennoot.

Hy het as gesinsman by uitnemendheid met empatie na sy pasiënte omgesien en uitgereik.

Die mediese kliniek op Patriotplein, die geestes­kind van Styger, is in 1989 geopen. Dit het in 2004 na Medicross op die hoek van Verster- en De Villiersstraat verskuif waar hy tot sy aftrede saam met ’n gedugte mediese span dienste aan pasiënte gelewer het.

Hy het ook in Die Paarlse hospitaalraad gedien.

Gedurende sy jare as dokter het hy steeds sy liefde vir die natuur uitgeleef. Ten spyte van sy besige praktyk was hy lid van ’n voëlkykklub en ’n WP-varswaterhengelaar. Hy was ook ’n uitstekende rolbalspeler en het aan die Afrikaanse Filatelie-vereniging behoort.

Styger was in alle opsigte ’n mense-mens. Sy dood laat ’n baie groot leemte – nie net in sy familie nie, maar ook in die onderskeie gemeenskappe waarin hy hom bearbei het.

Hy laat sy vrou, drie kinders met hul gades en vyf kleinkinders agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.