Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hartseer ná 10-jarige seuntjie verdrink

GANSBAAI – “Ek weet dis die Here se wil, maar dit maak so seer!”

Só sê Elizabeth “Libby” Arendse, die tannie van klein Jay-Den Montague (10) wat verlede week in die Gansbaai-hawe verdrink het.

Jay-Den het volgens berigte verlede Woensdag saam met maatjies by die hawemuur in Gansbaai gaan visvang toe hy vermoedelik gegly en in die water beland het. Ten spyte van ’n uitgebreide soektog het die voorval in ’n tragedie geëindig toe sy liggaam die volgende dag gevind is.

Volgens die Gansbaai-polisie het die 10-jarige seun Woensdag (17 Junie) saam met maats op dolosse by die hawemuur gespeel toe hy omstreeks 16:05 in die water geval het.

Deon Langenhoven, bevelvoerder van die NSRI Hermanus-stasie, berig dat die seereddingsinstituut omstreeks 16:44 daarvan in kennis gestel is. Die red­dingsvaartuig Rotarian Burnett is daarheen en die EMS-nooddienste sowel as die polisie is ook na die toneel ontbied.

Volgens Langen­hoven het die NSRI met sy aankoms in die hawe gevind dat plaaslike duikers reeds die soektog na die vermiste seuntjie begin het. Polisieduikers het ook later by die soektog aangesluit.

Die seuntjie se liggaam is Donder­dag ná 13:00 gevind. Volgens berigte is hy omtrent 30 m van die plek waar hy in die water geval het, gevind.

Kaptein Piet Franse, waarnemende bevelvoerder van die Gansbaai-polisie, het bevestig die seun se liggaam is Donderdagmiddag gevind.

Elizabeth vertel sy is deur hel nadat sy die Woensdag ’n boodskap van Jay-Den se ouma gekry het om haar oor die tragedie in te lig.

“Dit het gevoel of ek van my kop af raak. Ek kon nie slaap nie, want ek wou daar wees om na hom te soek. Ek het heeltyd gehoop hy lewe nog en dat dit ’n nagmerrie is,” vertel Elizabeth.

Jay-Den het die afgelope drie jaar by Elizabeth en haar gesin in Hawston gebly en is met die grendeltyd Gansbaai toe om by sy familie te kuier.

“Ons het die Maandag (23 Maart) vir hom ’n klein partytjie gehou, want hy sou nie die volgende dag met sy verjaardag by ons wees nie. Hy was so gelukkig,” sê Elizabeth. “Ek sukkel om sy dood te aanvaar, want ek bly vir myself sê as ek hom nie laat gaan het nie, sou dit nie gebeur het nie. Hy het baie diep in my hart gekruip.”

Jay-Den was ’n graad 4-leerder aan Hawston Primêr. Die seun se ouers het Vrydag sy liggaam uitgeken.

“ ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen,” het Franse bygevoeg.

Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.