Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Herrie oor huise in Nieuwedrift

Talle plaaswerkers van verskillende plase in Nieuwedrift in die Paarl het onlangs weer ’n vergadering op die Evergreens-sportterrein bygewoon om hul misnoeë oor erf 486 se behuisingsprojek in Noorder-Paarl te bespreek.

Dié grond sou destyds vir plaaswer­kersbehuising uitgesit word, maar die geld het toe later opgedroog.

Die vergadering is deur die groep Helpmekaar gereël om ’n plan van aksie te bespreek teen Drakenstein-munisipaliteit (DM) se planne om eerder ’n begraafplaas hier te ontwikkel.

Die grond is in 1998 deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit aan die Drakenstein-munisipaliteit oorhandig en deur die destydse nasionale minister van behuising goedgekeur om huise vir plaaswerkers te bou.

Daar was egter nie ’n skikkingsooreenkoms nie.

Die plan was om 300 huise vir plaaswerkers in die Drakenstein op ’n stuk grond by Nieuwedrift te bou.

Onmin het egter ontstaan nadat die munisipaliteit vanjaar aangekondig het dat die gesubsidieerde behuisingsprojek nie meer oorweeg kan word nie weens ’n gebrek aan voldoende ondersteuning van die provinsiale departement van menslike nedersettings om dié projek te finansier asook ’n gebrek aan beskikbaarheid van grootskaalse dienste in die Nieuwedrift-omgewing om só ’n behuisingsontwikkeling te kan ondersteun.

Volgens Achmat Patel, ’n woordvoerder van Helpmekaar, eis die plaaswerkers hul regte op die grond vir behuising wat in dieselfde omgewing is as die plase waar hulle die grootste gedeelte van hul lewe woon.

Andrew Salomo, tesourier van HelpMekaar, sê hul ontevredenheid spruit ook uit die munisipaliteit se beweerde onvoldoende konsultasie met die gemeenskap.

Hulle beweer die munisipaliteit beraam planne namens die gemeenskap sonder om hul insette op ’n gepaste wyse te kry.

’n Veelvuldige opname is glo aanlyn gedoen tydens die inperking, maar die plaaswerkers het nie toegang tot die internet nie.

Dit was ook in Engels wat nie hul huistaal is nie.

Hulle meen ook dat die munisipaliteit geweier het om hulle te ontmoet.

Gerald Esau van die Drakenstein-munisipaliteit sê op grond van die aantal projekte wat reeds ingevolge die munisipale behuisingsbeplanning van stapel gestuur is, sal ’n behuisingsprojek by Nieuwedrift op die vroegste tussen vyf en 10 jaar van nou af geïmplementeer kan word.

Esau sê die munisipaliteit het ’n elektroniese en informele opname gemaak om die lewensvatbaarheid van ’n begraafplaas te ondersoek, maar voer aan dat hulle wel Afrikaanssprekende amptenare aangestel het om mense wat aan die opname deelneem, te help.

“Die uitslag van hierdie studie en verwante openbaredeelnameprosesse sal die munisipaliteit se besluitneming rakende ’n pad vorentoe bepaal. ’n Finale besluit sal egter eers geneem word nadat die nodige lewensvatbaarheidstudies onderneem is om die terrein moontlik as ’n begraafplaas te ontwikkel,” sê Esau.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.