Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Herrie oor ‘pad van dood’

WELLINGTON - Motoriste wat snags die R44 tussen Gouda en Porterville aandurf, doen dit met die wete dat hulle hul lewe in gevaar stel.

’n Trop perde loop gereeld daar vrylik op die pad rond en bestuurders kan hulle gewoonlik nie sien voordat dit te laat is nie. Oor die jare het talle botsings (en sterftes) voorgekom nadat bestuurders teen hierdie diere vasgery het sonder dat enigiemand verantwoordelik gehou is.

Anton Burger, ’n boer van Halfmanshof naby Porterville, sê hy is raadop. Hy het al die plaaslike polisie, die Drakenstein-munisipaliteit en ander rolspelers probeer kontak, maar die probleem word stééds nie opgelos nie.

“Dis nou mistige weer; dit reën en jy sien nie daai perde nie. Hulle loop eenvoudig oor die pad. Verlede week is drie perde doodgery,” vertel hy.

Gideon Kotze, ’n boer wat buite Porterville woon, sê hy sien gereeld ’n perd langs die pad lê en hoor amper weekliks van ’n perd wat getref is.

“Ek het altyd gewonder hoe kry ’n mens dit reg om ’n perd te tref totdat dit my gebeur het,” vertel hy.

Kotze en ’n vriendin was Saterdagaand (13 Junie) net voor 20:00 op pad Saron toe, toe ’n perd reg voor hul bakkie ingestap het.

Die volgende dag toe hy ’n foto van die ongelukstoneel wou neem, was daar weer ’n trop perde op dieselfde plek as waar die botsing gebeur het.

Kotze sê hy ry nou veral versigtig en sal dit nie sommer weer waag om in die donker op hierdie pad te ry nie.

“Ons is regtig gelukkig [om te oorleef]. As ons met ’n plat kar gery het, was daardie perd deur die windskerm.”

Kol. Lillian Patience van die Saron-polisie sê die probleem van padongelukke kom reeds jare aan. Sy sê motoriste wat in so ’n botsing is, het die reg om ’n siviele klag in te dien.

Paarl Post verneem die eienaar(s) van die perde kon egter nooit opgespoor word wanneer die diere chaos veroorsaak het nie.

Die dooie perd sal dikwels vyf tot ses dae langs die pad lê voordat die owerheid dit verwyder, maar dan gaan die siklus voort.

Burger en Kotze sidder om te dink watter tragedie kan plaasvind as die diere nie behoorlik deur ’n motorhek of ander versperring ingeperk word nie.

Gerald Esau, direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sê hulle sal vanaf Julie hul skut in Saron herstel en inrig om loslopende diere in die dorp te skut.

“Ons skakel intussen ook met verskillende rolspelers om hierdie uitdaging gesamentlik die hoof te kan bied. Dié rolspelers sluit in die Dierebeskermingsvereniging, die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Veediefstal-eenheid, asook die diere se eienaars.” . Motorists are putting their lives in danger on a daily basis on the R44 beteen Saron and Poterville because of livestock – especially hoirses – wandering in the road.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.