Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Herwinning nog voluit op dreef

Talle klagtes van die publiek is die afgelope weke ontvang dat die Drakenstein-munisipaliteit se herwinningsprojek gefaal het.

Inwoners beweer dat die deurskynende sakke met hul huishoudelike herwinbare afval of saam met gewone afval in die groot munisipale vullislorries gegooi en gepers word, andersins eers dae later deur die kontrakteurs wat hiervoor verantwoordelik is, opgelaai word.

Maar volgens Marius Wüst, direkteur: ingenieursdienste by die munisipaliteit, is die herwinningsprojek nog ten volle op dreef.

Daarmee saam, sê hy, dra inwoners en die munisipaliteit deur middel van hierdie herwinningsprojek by om voltydse werk vir ongeveer 25 entrepreneurs te skep.

Hierdie entrepreneurs, wat vir hulself onder beheer van die munisipaliteit werk, ontvang sakke met herwinningsmateriaal wat van wonings afkomstig is, sorteer en haal uit wat herwinbaar is, en verkoop dié materiaal aan plaaslike herwinningsfirmas.

Boonop het die herwinning-by-die-bron-projek verlede jaar ook na ander wyke in Drakenstein uitgebrei, wat ’n sekere aantal formele wonings in Mbekweni ingesluit het. Tydelike werkers word gebruik om die herwinningsakke te versamel en te vervoer.

“Die Drakenstein-munisipaliteit het reeds ver gevorder met die beplanning van ’n herwinningsaanleg vir die entrepreneurs naby die Wellington-stortingsterrein,” sê Wüst. “Die bestaande herwinningsaanleg in die Paarl is etlike jare oud en die gebou benodig opknapping en aanpassings om plek te maak vir nuwer tegnologie. Die bykomende vervoer van materiaal sal ook uitgeskakel word indien die aanleg naby die stortingsterrein is.”

Verder sê Wüst dat ’n nuwe geïntegreerde bestuursplan vir die vermindering van vaste afval vir die Drakenstein-gebied oorweeg word. Dit sluit ’n nuwe herwinningsaanleg vir die entrepreneurs in.

“Die skeiding van herwinningsmateriaal binne die munisipaliteit word steeds op ’n baie basiese wyse gedoen, en die diens om dit af te haal en te vervoer word deur die munisipaliteit self verskaf. Hierdie metode is meer begrotingsdoeltreffend. Die materiaal wat deur huiseienaars by die bron geskei en apart gehou word, word deur hierdie entrepreneurs aan plaaslike firmas verkoop.”

Die projek is só suksesvol dat die munisipaliteit in 2019 erkenning vir hierdie herwinningsprojek ontvang het deurdat Petco Suid-Afrika die prys vir “Local Authority Recycling Innovation 2019” aan die munisipaliteit toegeken het. Die munisipaliteit het ook ’n soortgelyke prys van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en beplanningsontwikkeling by die “2019 Greenest City”-kompetisie ontvang.

“Bogenoemde pryse kan slegs deur die Drakenstein-munisipaliteit verower word danksy die Drakenstein se inwoners wat getrou aan die herwinning- en werkskeppingsprojek deelneem. Ons bedank dus elke inwoner, sonder wie hierdie projek en die werkskepping wat dit meebring, nie moontlik sou wees nie, vir sy/haar getroue deelname aan die projek.

“Herwinning-by-die-bron is ’n noodsaaklike diens en moet plaasvind om te help om waardevolle en duur ruimte op die stortingsterrein te bespaar. Die munisipaliteit beplan om dié projek verder uit te brei sodra nuwe geriewe ingerig is om te help verseker dat die meeste herwinningsmateriaal moontlik uit die vullisstroom verwyder word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.