Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hoe vorder die wapen-amnestie?

Bheki Cele, die minister van polisie, het onlangs weer in die media gesê hy droom van ’n Suid-Afrika waarin geen individu ’n vuurwapen besit nie, maar menige vuurwapeneienaar staan reg om omtrent oorlog te voer om hul reg om vuurwapens te besit, te beskerm.

Die Nasionale Jag- en Skietvereniging (NHSA) het Dinsdag 14 Januarie ’n skikkingsooreenkoms met die minister en die nasionale kommissaris van polisie bereik na aanleiding van die vereniging se dringende aansoek om die vuurwapen-amnestie ter syde te stel. Die skikkingsooreenkoms is ook deur ’n hofbevel amptelik gemaak.

Die skikking volg nadat die polisie Maandag 6 Januarie die administratiewe proses vir vuurwapenlisensie-aansoeke in die amnestie-tydperk gewysig het. Dié veranderinge stel vuurwapeneienaars in staat om hul aansoeke vir die hernuwing van bevoegdheidsertifikate wat verval het, saam met hul aansoeke vir nuwe vuurwapenlisensies in te dien.

Die amnestie eindig op 31 Mei.

Die NHSA het die dringende aansoek gebring omdat die polisie glo nie die korrekte wetlike voorskrifte gevolg het vir die implementering van die amnestie nie. Die NHSA het ook aangevoer dat die polisie die parlement mislei het deur die indruk te skep dat die doel van die amnestie is om onwettige vuurwapens wat in geweldmisdaad gebruik word, uit die samelewing te verwyder.

Volgens die vereniging was die polisie se doelwit met die amnestie eerder om ongeveer 400 000 vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, te dwing om hul vuurwapens in te gee.

Die vereniging se hofstukke het daarop gewys dat die amnestie nie kan werk as iemand eers ’n hernuwingsaansoek vir bevoegdheid moet verkry vóórdat ’n aansoek vir ’n nuwe lisensie ingedien kan word nie. Die hernuwing van bevoegdheidsertifikate neem gewoonlik tussen vier en ses maande. Die grasietydperk van 14 dae waarbinne aansoekers ingevolge die amnestie vir nuwe lisensies aansoek kan doen, sou beteken dat die polisie baie aansoeke sou moes afkeur omdat ’n geldige bevoegdheidsertifikaat nie betyds verkry kon word om die lisensie-aansoek te ondersteun nie.

Dr. Herman Els, voorsitter van die NHSA, het gesê die verandering aan die polisie se proses vir die aansoek om nuwe lisensies onder die amnestie is ’n groot verbetering aangesien dit vuurwapeneienaars ’n billiker kans gee om aansoek te doen vir nuwe lisensies vir vuurwapens waarvan die lisensies verval het.

Hy het bygevoeg dat die huidige omstandighede van die amnestie onbevredigend is, al is ’n skikkingsooreenkoms bereik. Onsekerheid heers oor onder meer hoe lank dit sou duur om die ballistiese toetse van vuurwapens wat in die amnestie ingedien word, te voltooi.

Els sê dit is ooglopend dat die amnestie gebruik word om vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, te ontwapen. Hy het verwys na die minister se aanmerkings met die destydse aankondiging van die amnestie dat die polisie na afloop daarvan op 31 Mei 2020 al die vuurwapens met lisensies wat verval het, gaan inneem, al moet hulle “van huis tot huis gaan” om die vuurwapens te kry.

“Vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, geniet steeds beskerming van die tussentydse uitspraak in die hofsaak van Gun Owners South Africa (Gosa) ingevolge waarvan die polisie nie vuurwapens kan inneem waarvan die lisensie verval het of mense daarvoor kan vervolg nie. Mense wie se lisensies verval het, moet besef dat die polisie hulle gewis ná die amnestie sal teiken indien hulle nie nou die geleentheid benut nie,” sê Els.

Mense met vuurwapenlisensies wat verval het, het drie opsies om te oorweeg: Eerstens, gee die vuurwapen by die polisie in en doen aansoek vir ’n nuwe lisensie en vir die hernuwing van bevoegdheid indien nodig; tweedens, gee die vuurwapen by die polisie in vir vernietiging; of derdens, wag vir die uitslag van die Gosa se hoof-hofsaak wat waarskynlik ingewikkelde regsargumente met ’n onvoorspelbare uitkoms sal behels.• The National Hunting and Shooting Association (NHSA) concluded a settlement agreement with the Minister and National Commissioner of Police on 14 January following the association’s urgent application to halt the firearm amnesty. The settlement agreement was also made official by a court order.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.