Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hollywood’ kom na Paarliete se stoep

Binnekort sal Paarl omskep word in ’n mini-Hollywood wanneer van Suid-Afrika se bekendste akteurs vir die volgende maande hul lyf Paarliet gaan hou.

Marius Weyers, Elsabe Daneel en Ivan Zimmerman is maar net ’n paar van die bekendes wat die strate van die Paarl sal invaar met die verfilming van die kykNET-drama, Alles Malan.

Alles Malan sal handel oor die Malan-familie wat al vyf geslagte in Paarl woon en die hedendaag­se daaglikse drama en verwikkelinge in hul lewe.

Die gesin woon aan die hang van Paarlberg en die kinders gaan skool aan Hugenote Hoërskool.

Grootoupa Peet word vertolk deur Marius Weyers, Oupa Derik deur Albert Pretorius en Ouma Brenda deur Elsabe Daneel. Pa Frik is Ivan Zimmerman en sy vrou Tessa deur Nadia Valvekens. Hul dogter is Elani, vertolk deur Greteli Fincham (’n leerder aan Hoërskool Stellenbosch), seun Freek deur Matheo Olivier (leerder aan Hoërskool Laborie), en hul vriend Johan deur Brent Vermeulen ( Hoërskool Gimnasium Paarl). Nico Malan word vertolk deur Sean Marco Vorster en sy verloofde Lee-Anne, deur Nicole Fortuin. Ander bekendes sluit in Tim Theron, Helene Truter, Mila Guy, Lee Ann van Rooi en Kay Smith.

Nou word “regte” Paarliete genooi om die produksiespan te skakel indien hulle byspelers wil wees.

Hulle kan ’n e-pos stuur na allesmalanproduction@gmail.­com of loer op sy Facebook-blad: www.facebook.com/ALLES-MALAN. Die besonderhede vir die Paarl-oudisies word binnekort bekendgemaak, so hou Facebook of jou e-pos dop.

Daar word ook byspelers vir tonele gesoek by van die Malan-familie se gunstelingkuierplekke in die Paarl. As toneelspel nie jou sterkpunt is nie, maar jy steeds deel wil word van die agter­grond­aksie, stuur jou besonder­hede.

Die Malans is baie lief vir kuier en koffie by Kikka in die hoofstraat, Noop is vir deftige Malan-aandetes en die Malans drink dikwels bier by Slug and Lettuce. Hulle hou van staptoere by Paarl Klip en hul gesins­woning is ’n pragtige woning hoog teen die Paarl-berg.

Die produksiespan van Alles Malan wil graag die Paarl-gemeenskap bedank vir die warm verwelkoming en almal wat tot dusver kontak gemaak en gehelp het. Veral die wonder­like logistieke en vervoermaat­skappye in die Paarl.

Die inwo­ners sal op hoogte gehou word met verwikkelinge in die vervaardiging van Alles Malan in die Paarl Post.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.