Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hospitaalbesoeke steeds verbode

Besoektye by Paarl-hospitaal en ander openbare gesondheidsfa­siliteite is steeds verbode.

Só sê Leensie Lötter, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid oor Paarl-hospitaal.

Dit volg nadat ’n vrou, wat in Paarl se middedorp woon, onlangs haar ongelukkigheid uitgespreek het omdat sy nie haar man, wat tans ’n pasiënt in dié hospitaal is, kan besoek nie.

“Paarl-hospitaal handhaaf steeds die Wes-Kaapse departement van gesondheid se beleid dat geen besoekers vir pasiënte toegelaat word nie.

“Hierdie beleid is ingestel vir die duur van die Covid-19-pandemie om die risiko vir die verspreiding van die virus te beperk en word deur die nasionale departement van gesondheid onderskryf,” sê Lötter.

Volgens die vrou, wat verkies om anoniem te bly, begin sy nou hulpeloos en moedeloos voel omdat haar man, wat al sowat twee weke in die hospitaal is, se toestand verswak en sy nie by hom kan wees nie.

Op die oomblik bly sy in telefoniese kontak met haar man, maar dit word ook nou ’n struikelblok omdat sy nie altyd lugtyd het om te bel nie.

Wat die hele situasie nog meer frustrerend vir haar maak, is die feit dat sy nie altyd met ’n dokter, wat geregtig is om inligting met die pasiënt se familie te deel, oor haar man se toestand kan gesels nie.

Die vrou meen net soos ’n besoeker die virus die hospitaal kan inbring, kan personeellede ook draers wees van die koronavirus aangesien hulle daagliks binne en buite die hospitaal-gebou beweeg.

Lötter verduidelik dat personeel moet voldoen aan streng maatreëls om die infeksie deur en verspreiding van die virus te voorkom. Vir hierdie rede word hulle geassesseer, beskermende drag word aangetrek waar nodig, en fisieke distansiëring word verder deur personeel gehandhaaf.

Administrasie- en kombuispersoneel asook diegene wat nie mediese take verrig word beperk tot hul werksplek en word nie naby pasiënt-eenhede toegelaat nie, tensy hul werk dit vereis.

“Paarl-hospitaal is onderhewig aan streng maatreëls om die verspreiding van Covid-19 te voorkom ten einde personeel en pasiënte te beskerm.

“Hoewel ons begrip het dat die reël in verband met geen besoekers baie ongerieflik vir ons pasiënte en geliefdes is, is die bestuur en personeel onderhewig aan nasionale regulasies wat gevolg moet word,” voeg Lötter by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.