Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hou altyd moed . . .’

Met September wat kinderkankerbe­wusmakingsmaand is, het PaarlPostgesels met ’n mamma wat verlede jaar haar dogtertjie aan die dood afgestaan het.

Amanda Moos van Hillcrest in Wellington vertel dat hul pad met kinderkanker verlede jaar begin het toe kanker by hul tweejarige dogtertjie, Euceashé, gediagnoseer is.

Amanda vertel dat sy en haar man, Eugene, agtergekom het iets is nie pluis nie toe klein Euceashé se magie opgeswel het.

“Ons was by die dokter, maar die dokter het gesê dit is hardly­wig­heid. Maar as mamma het ek vir ’n tweede mening gevra en ons is na Tygerberg-hospitaal verwys.”

Euceashé was ’n maand lank in Tygerberg-hospitaal terwyl verskeie toetse gedoen is om vas te stel wat fout is.

Amanda vertel dat die hospitaal hulle tegemoetgekom het en toegelaat het dat sy en haar man by Euceashé kon bly. Euceashé was baie geheg aan haar pa en omdat sy nog geborsvoed het, kon albei ouers by haar bly.

Op 14 Augustus 2018 het die dokter die nuus aan die gesin oorgedra dat Euceashé blaaskanker het.

Amanda vertel dat Euceashé na die kanker-afdeling oorgeplaas is en dat sy met chemobehandeling begin het.

“Ek was geweldig stukkend en hartseer, maar daardie tweejarige dogtertjie het my trane afgevee,” vertel Amanda.

In Desember 2018 het skanderings gewys dat Euceashé se kanker ná die behandeling weg was. “Ons was so gelukkig en dankbaar oor die nuus.”

Euceashé moes weer in Mei 2019 vir ’n skandering gaan en die uitslae het gewys dat die kanker terug is.

“Die dokter het gesê hulle kan niks meer vir haar doen nie. Sy het vlak 3-kanker gehad en die dokter het gesê sy het drie maande oor om te lewe. Hulle het gesê ons kan haar huis toe vat en dat ons vir haar baie liefde moet gee.”

Terug by die huis vertel Amanda dat Euceashé nooit gekla het oor pyn nie en dat sy ’n gelukkige kind was wat ’n positiewe impak op ander se lewe gehad het.

“As iemand vir haar gevra het hoe dit met haar gaan, het sy geantwoord ‘dit gaan goed, want God is goed’. As sy gesien het ek lyk hartseer, het sy vir my gesê ‘mammie, moenie so stres nie, gee dit vir Jesus. Sy het ons staande gehou. As jy na haar gekyk het sou jy nooit geweet het dat sy kanker gehad het nie.”

Volgens Amanda het Euceashé se bene later begin opswel en kon sy nie meer loop nie.

“Die laaste paar dae het sy net in die bed gelê. En op 19 September 2019 vier minute oor 12 het sy gesterf.”

Amanda vertel dat Euceashé soos enige kind baie lief was vir speel, sing en dans en dat sy dikwels vir hulle gewys het hoe om met die selfoon en skoot­rekenaar te werk.

Met Euceashé se diagnose het ’n vriend die gesin in kontak gebring met die Little Figthers Cancer Trust in die Paarl, ’n organisasie wat uitreik na kinders met kanker en hul gesinne.

Volgens Amanda het die ondersteuning van Little Fighters vir hul gesin baie beteken, die uitreiking asook die skenking van produkte wat Euceashé benodig het.

Die gesin het ná Euceashé se dood vir berading gegaan.

“Ons het saam gehuil en mekaar ondersteun.”

Amanda vertel dat hulle steeds ’n traan stort wanneer hulle aan hul geliefde dogtertjie dink, maar dat die gesin ook nou op ’n plek in hul lewe is waar hulle kan lag wanneer hulle en ander iets van Euceashé vertel of iets onthou wat sy altyd gedoen het.

“Dat Euceashé vir ons gegee is en dat dit gebeur het, is nie toevallig nie, dit moes so gebeur het, daar is ’n rede vir alles.”

Haar boodskap aan ander ouers wat ’n kind het by wie kanker gediagnoseer is of wat ’n kind verloor het, is om sterk te wees. “Moet nooit moed verloor nie, want hierdie pad stap God saam met julle. Die Here sal kom op die regte tyd om jou as ouer te versterk.• Die kleur vir kinderkanker­bewusmaking is goud en inwoners wat graag die Little Fighters se bewusmakings­veldtog, waar hulle goue strikke om die bome draai, wil ondersteun, kan Lizelma Olivier by 084 099 1136 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.