Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Huislose gesin moedeloos

“Ek slaap amper niks in die aand nie, want iemand kan die deur maklik oopskop. Ek lê in vrees wakker . . .”

Só vertel ’n vrou wat saam met haar man en dogter in ’n opslaanhuis in iemand se erf in Hillside woon.

Die vrou verkies om anoniem te bly uit vrees vir viktimisering deur die mense in wie se agterplaas sy woon.

Sy, haar man en twee dogters het tot onlangs almal in die opslaanhuis gewoon, maar haar oudste dogter slaap deesdae daar waar vir haar slaapplek is.

Die gesin, wat sedert 1999 op die behuisingswaglys is, woon al sewe jaar in die tweevertrek-opslaanhuis bestaande uit ’n slaapkamer en ’n kombuis, en word dikwels sonder elektrisiteit gelaat wanneer die verhuurder hul krag na willekeur afsny, hoewel hulle vir krag betaal.

“Ons gebruik die toilet in die huis, maar ook op die mense se voorwaardes. Hulle besluit sommer ons kan nie die toilet gebruik nie.”

Die paartjie sê die omstandighede waarin hulle woon, plaas geweldige druk op die gesin.

“Waar ons nou woon, word gedrink en geskel, en naweke is dit baie erger. My kinders wil nie naweke hier wees nie, want ons weet daar kom moeilikheid. In die winter is dit nat en koud en as die krag afgesit word, moet ek vir mense warm water gaan vra sodat my dogter kan was, want die volgende dag is skool.”

Die gesin sê hulle is moedeloos gewag vir ’n huis en voel hulle word van bakboord na stuurboord gestuur.

“Ons was onder fase 7 vir huise by Schoongesicht in Dal Josafat gelys, toe stop hulle by fase 6. Nou is ons weer in fase 2 by die Vlakkeland-huise. Elke keer sê die munisipaliteit iets anders, terwyl hier mense is wat huise gekry het, maar nie self in die huise woon nie – hulle verhuur dit.”

Sy vertel dat hul gesin nie die enigste mense is wat al jare op die waglys is nie, maar dat sy baie ander mense ken.

Die Drakenstein-munisipaliteit sê hul behuisingswaglys staan op 41 543 mense, van wie net 19 883 jaarliks hul inligting opdateer. Gerald Esau, van Drakenstein-munisipaliteit het gesê dat die aansoeke strek terug tot April 1999.

“Die aanvraag vir behuising oorskry die munisipaliteit of owerhede se vermoë om huise te lewer. Bo en behalwe beperkte beskikbare grond, beperkte behuising en onvoldoende befondsingstoekennings van die nasionale en provinsiale regerings, is verouderde kontakbesonderhede en persone op waglyste wat nie gereeld hul inligting opdateer nie, een van ons grootste uitdagings,” het Esau gesê.

Esau het gesê die munisipaliteit het ’n toekenningsbeleid wat die toekenning van behuisingsgeleenthede reguleer. Dié beleid bepaal dat 60% van die toekennings na die algemene lys gaan, 20% aan plaasbewoners en 20% aan kwesbare groepe soos bejaardes en mense met gestremdhede.

Moontlike begunstigdes word geïdentifiseer op grond van ’n stel streng kriteria, waaronder die aansoeker moet ’n Suid-Afrikaanse burger wees en nie meer as R3 500 (huishoudelike inkomste) verdien nie.

Volgens Esau word die datum van iemand se aansoek as ’n maatstaf vir oorweging gebruik terwyl ander kriteria soos byvoorbeeld die inkomstekerf ook van toepassing is.

Altesaam word 2 159 Breaking New Ground-huise tans in Drakenstein gebou, sowel as 397 huise vir die bekostigbare mark.

“Die Vlakkeland-behuisingsprojek is tans in aanbou. Hierdie projek sal nog vir die volgende drie tot vyf jaar huise beskikbaar stel. Ander projekte wat oor die volgende vyf jaar beplan word, sluit onder andere projekte in Simondium, opgradering van verskeie informele nedersettings en ’n behuisingsprojek langs die Boland-krieketveld in,” het Esau benadruk.

Esau het gesê dat die implementering van hierdie projekte hang grootliks af van die beskikbaarheid van geld van die nasionale en provinsiale regerings af sowel as die beskikbaarheid van grootmaatdienste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.