Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hul dogter al ses jaar lank verkrag

“Haar menswees het heeltemal verander. Haar kindwees is weg. Een aand het sy kombuis toe gestrompel. Ek het die messelaai hoor oop­gaan en ’n bietjie van ’n geween gehoor. Ek moes opspring en gaan kyk. Sy het ’n mes gevat en wou haarself sny. Sy was moeg. Sy was gebreek.”

Só vertel die ouma van ’n 11-jarige meisie van Montagu wat bykans ses jaar lank, reg onder die familie se neuse, deur twee nabye inwoners verkrag is.

Cindy* is ’n doodgewone meisie wat deur haar familie as ’n voorbeeldige kind beskryf word met ’n liefde vir ander mense en ’n passie vir diere. Hulle woon hul hele lewe lank in Montagu en Cindy is geliefd in haar straat – almal in die buurt ken haar.

Cindy word deur haar ouma grootgemaak, hoewel haar ma steeds in die prentjie is en by hulle woon. Haar pa woon in Kaapstad.

Die buurt se kinders speel elke dag in die straat. Hulle skop die bal vir mekaar, jaag soms kattekwaad aan en kuier in mekaar se huise. Dit is ’n buurt waar kinders almal se kind is. Niemand sou kon raai oor die onheil agter geslote deure nie.

Cindy se ma en ouma vertel hulle het gesien hoe sy voor hul oë in iemand verander wat hulle nie ken nie.

“Sy was meer huilerig as gewoonlik en het blykbaar ’n houding by die skool gehad. Haar onderwysers het ons gekontak en vertel haar punte is aan die daal. Hulle het ook gesê hulle is bekommerd oor haar emosionele toestand. Die rooi ligte het begin flikker,” vertel hulle.

Sy het eendag, sowat ’n maand gelede, besluit genoeg is genoeg en haar ma vertel wat aangaan – afgesien van die feit dat sy met die dood gedreig is. “My kind het voor my gebreek en ek was stom. Ek het nie geweet hoe om die nuus te hanteer nie. Sy het vertel hoe sy ses jaar lank, vandat sy vyf jaar oud was, deur die man wat oorkant ons bly en die man wat net drie huise regs van ons af bly, misbruik is. Ek het net gedink: Hoe kon ek dit nie agtergekom het nie? Ek was kwaad. Ek was ontsteld en ek was hartseer toe sy my vertel, maar ek sal alles doen om haar te beskerm,” vertel haar ma.

Hulle het die verkragting dadelik by die plaaslike polisie aangemeld en vir Cindy die nodige ondersteuning by die skool en deur ’n sielkundige gekry.

“Sy is steeds nie lekker nie. Ons vat dit maar dag vir dag en sorg dat sy die ondersteuning kry wat sy moet,” vertel haar ouma aan Standard.

Die mans wat van hierdie gruwelike dade beskuldig word, is iets in die twintig en is baie bekend aan die familie.

“Die een bly oorkant die pad. Hy was altyd vriendelik en was lief vir Cindy. Sy was soos ’n kind in hul huis. [Dit is] dieselfde met die man wat net ’n paar huise van ons af bly. Hy en sy ma was baie lief vir haar en ons het hulle vertrou. Nooit sou ons kon raai dat so iets gebeur nie. Sy is deur hierdie mans ge-groom. Sy is ook met die dood gedreig en hulle het gesê hulle sal haar familie (ons) leed aandoen.”

Die twee mans se identiteit kan nog nie bekend gemaak word nie aangesien hulle nog nie gepleit het nie. Die verwagting is dat hulle eersdaags sal pleit. Teen druktyd was hulle nog in aanhouding nadat hul aansoek om borgtog Maandag (8 September) weer vir verdere ondersoek uitgestel is.

Die familie verduidelik dat Cindy se pa met hierdie mans bevriend was toe hy nog in Montagu gewoon het.

“Hy was net so geskok oor die nuus. Dit het hom uit die veld geslaan. Ons wil nou net fokus op haar herstelpad en seker maak dat geregtigheid geskied,” vertel die familie.

’n Familievriendin, Anneline Mohammedt, het saam met die familie ’n vreedsame byeenkoms buite die hof in Ashton gehou toe die mans verlede week daar verskyn het.

Plakkate met slagspreuke teen gesinsgeweld en verkragting was orals buite die hof te sien terwyl die familie binne deur die verrigtinge moes sit.

“Ek ken haar ook nou al ’n geruime tyd. Sy is so ’n intelligente en slim meisie. Dit is skokkend wat met haar gebeur het. Daar is ongelukkig steeds ’n negatiewe houding en stigma in ons omgewing oor hierdie soort misdaad. Van die mans het ons buite die hof gekoggel en uitgelag soos hulle verbygestap het. Dit is ’n probleem wat aangedurf moet word,” het Mohammedt bygevoeg.

Die familie voel geregtigheid moet geskied en die reg moet sy gang gaan. Hulle sal verkies dat die mans eers in aanhouding bly aangesien ’n interdik nie sal werk nie omdat hulle so naby aan die slagoffer woon.. Skuilname is gebruik om die identiteit van die minderjarige in hierdie saak te beskerm. Namate meer inligting in die hof na vore sal kom, sal Standard die inligting bekend maak. Die slagoffer se identiteit moet te alle tye beskerm word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.