Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners in rep en roer oor parkeergeld

Inwoners is sedert die instelling van betaalde parkering in die Paarl ontstoke, en nou nog meer omdat hulle meen die koste is hoog en hulle sien nie die beloofde opknappings in die middedorp nie.

Inwoners betaal vir parkering in verskeie dele van die dorp, waaronder Pastorielaan, Patriotplein asook Van der Lingen-, Wamakers, Jan Phillips- en Lady Greystraat.

Talle inwoners skop egter van die begin af vas teen betaling vir parkering.

Van die klagtes wat onlangs weer opgeduik het, is dat inwoners nie weet na wie die geld gaan of wat daarvan word nie, juis omdat hulle geen veranderings aan Lady Greystraat sien nie.

“Om in Lady Greystraat te parkeer, jaag jou dadelik R2 uit die sak en indien jy langer as 15 minute parkeer, betaal jy R5. Vir ’n uur betaal jy R10 en R5 vir elke 30 minute daarna,” vertel ’n inwoner.

Klagtes sluit ook in dat wanneer inwoners vir die bewys vra, dit dikwels ’n ander motor se besonderhede is wat daar staan en hulle meer betaal as wat hulle moet.

Sekere inwoners weier eenvoudig om te betaal, terwyl sommige inwoners meen dit bied werkskepping.

“Met die inperking is daar finansiële druk op baie van ons, en nou moet ’n mens nog betaal vir parkering ook as jy net vinnig iets by ’n winkel wil gaan koop,” vertel ’n inwoner.

“Ek verstaan nie hoekom parkering op die verskeie pleine soos Van der Lingen vir die eerste uur gratis is nie, en dan betaal jy eers ná ’n uur, terwyl alle ander straatparkering en Jan Phillipsplein baie duur is.

“Die dorp loop klaar leeg met winkels wat toemaak. Die betaalde parkering gaan mense net verder wegdryf na winkelsentrums waar parkering gratis is. Ek bestee dan eerder my geld by winkels waar parkering gratis is en ek my inkopies gerieflik kan doen sonder om ’n stewige bedrag vir parkering op te dok.”

Werkers in die middedorp trek ook swaar, want as hulle vir die dag in Lady Greystraat wil parkeer, moet hulle sowat R80 betaal.

Volgens Seraj Johaar, uitvoerende direkteur van korporatiewe dienste by die Drakenstein-munisipaliteit, word die huidige parkeergeld as redelik beskou.

Johaar sê die munisipaliteit verhuur sedert 2011 sekere gedeeltes van die Paarl se sakekern aan die Paarl Property Partnership (Edms) Bpk. as deel van die Paarl se sakekern-opgraderingsinisiatief.

“Dié ooreenkomste maak voorsiening vir die huurder om parkeergeld te mag kollekteer. Hierdie parkeergeld word jaarliks deur die munisipaliteit bepaal en goedgekeur. Die tariewe kan slegs deur ’n raadsbesluit gewysig word. Die parkeergeld word nie deur die huurder bepaal nie,” het Johaar gesê.

Volgens hom is die huurkontrak en parkeerbeheergebied beperk, en word die munisipaliteit se verkeersafdeling gevra om te verseker dat die huurder nie dié grense oorskry nie.

“Dit maak voorsiening vir gratis parkering vir die eerste 15 minute in sekere areas, en tot ’n uur gratis parkering in minder besige areas,” sê Johaar.

“Die opbrengste van die parkeergeld word deur die huurder gebruik om die gebied in stand te hou.”

Die munisipaliteit en Paarl Property Partnership sê die doel van die betaalde parkering is om te verseker dat parkeerplekke voortdurend vir winkels se klante beskikbaar is en dat dit nie vir ’n volle dag deur sake-eienaars of hul werknemers beset word nie. Hulle sê gereelde sirkulering in die parkeerruimtes bevorder sakebedrywighede.

Johaar sê wat die opgradering van die Paarl se sakekern betref, het die munisipale raad in 2019 ’n plaaslike ruimtelike ontwikkelingsraamwerk vir die sakekern en omliggende gebied goedgekeur. “Dié raamwerk gee uitleg aan die ontwikkelingspotensiaal en riglyne vir ontwikkelings binne die sakekern. Een van die kern-aangeleenthede was om die beskikbaarheid van parkering binne die sakekern aan te spreek, waarvoor die huidige ooreenkoms met die parkering huurder dan ook voorsiening maak.”

Volgens Paarl Property Partnership probeer hy 60-70 werksgeleenthede deur hierdie inisiatief skep. Hulle sê van hierdie werkers se potensiaal word dikwels deur plaaslike ondernemings raakgesien, wat hulle dan ’n voltydse werk aanbied.

Paarl Property Partnership sê hy maak nie ’n sent uit die betaalde parkering nie en het immers sowat R3 miljoen verloor. Hy sê slegs 40% van mense betaal die parkeergeld. Die parkeerwag kan beskou word as die publiek se oë en ore en misdaad kan so ook bekamp word.

Motoriste sal binnekort met hul debiet- of kredietkaart vir parkering kan betaal.

En terwyl die munisipaliteit aanvoer dat mense glad nie vir die eerste 15 minute wat ’n voertuig ’n parkeerruimte beset, moet betaal nie, meen Paarl Property Partnership hy kan weens tegniese en praktiese doeleindes nie die eerste 15 minute gratis toestaan nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.