Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Italiaanse fietser se Kaapse draai

Wellington was een van die eerste stoppe op die Afrika-been van die Italianer Davide Travelli se fietstog om die wêreld.

Dié kaalkopavonturier het die afgelope paar weke in Somerset-Wes en Kaapstad deurgebring nadat hy reeds 954 dae lank sy fietsspore in Noord- en Suid-Amerika gelos het.

Davide het Sondag 3 Junie vaarwel gesê aan Tafelberg, en toe in Wellington en Ceres oornag op pad na die Sederberge. Hy hoop om binne die volgende vyf weke Walvisbaai in Namibië te bereik, en sal dan daarvandaan sien hoe die paaie hom lei.

Hy sien baie uit na sy tog deur die Namibwoestyn. As deel van die Suid-Amerikaanse been van sy tog het hy byvoorbeeld reeds deur die Atacama-woestyn gereis.

“Ek hou besonders baie van woestyne,” het Davide in Wellington vertel.

Dis vir hom ’n saak van eer om sy reis op sy fiets aan te durf en op sy eie kragte staat te maak. Daarom aanvaar hy nie geleenthede per voertuig nie.

“Ek moes dit wel twee keer doen – aan die begin van my reis toe ek hipertermie in Alaska opgedoen het,” vertel die 39-jarige avonturier wat eens ’n sakekonsultant in die landbousektor in Ierland was.

Hy is heel gemaklik met die wete dat hy die grootste gedeelte van sy reis alleen in die saal deurbring. Hy geniet egter die geselskap van ander ryers, aangesien ’n mens in die proses heelwat goeie raad kry. So het hy byvoorbeeld baie by Suid-Amerikaanse reisigers geleer oor hoe om so goedkoop as moontlik vir so lank as moontlik op die pad te bly.

Davide finansier sy reise self. Hy ruil byvoorbeeld graag poskaarte waarop foto’s van sy reise pryk vir slaapplek of kos, en gee motiveringspraatjies by skole of groepe as die geleentheid hom voordoen.

Hy oornag heel gemaklik in sy tentjie iewers op ’n soutpan of in die veld en maak gebruik van verwysings vir slaapplek op webbladsye soos Couchsurfer en Warmshowers, wat gewild is onder kleinbegroting-reisigeres en fietsryers. Daarby waardeer hy die goedgunstigheid van verwysings en mense langs die pad wat hom dalk verblyf of staanplek vir sy tent aanbied.

Davide se aanvanklike plan was om net al met die weskus van die Amerikas af te ry. Projek Alaska2Patagonië het egter intussen gemetamorfoseer met die mikpunt om op al die vastelande sy speke te laat sing. “Dit gaan dan nou so lekker,” reken hy.

Die Amerikas-been van sy reis het in Prudhoe Bay in Alaska in Noord-Amerika begin, en in die mees suidelike stad in die wêreld, Ushaia in Argentinië in Suid-Amerika, geëindig. In die proses het hy sy tentjie al op van die mees natuurskone en ongerepte dele van Noord- en Suid-Amerika opgeslaan.

In Kolombië het ’n bottel beerwerende sproei hom van aanvallers gered en in Costa Rica het ’n bus hom amper van die pad af gedruk. Andersins verloop sy toer – seer spiere en al – heel voorspoedig. “Bere het al aan my tent kom snuffel en ek het twee poemas gesien,” vertel hy meer oor sy avonture.

Na afloop van sy toer deur Noord- en Suid-Amerika het Davide darem eers net ’n vinnige besoek aan sy ouerhuis in ’n klein dorpie naby Milan gebring, waar sy pa ’n bakkerytjie bedryf. Nou sien hy uit om sy nuwe fiets uit te toets en te kyk waarheen sy neus hom lei.

. Davide se blog is te lees by www.alaska2patagonia2.com. Lesers kan sy reise op Facebook, Instagram en Twitter of via www.share.garmin.com/davidtravelli volg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.