Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jak praat oor sy lief en leed . . .

Jou nuwe liedjie genaamd “Ek was hier” het onlangs op YouTube verskyn. Wat is die liedjie se agtergrond en waaroor gaan dit? Die afgelope paar jaar het baie van my beste vriende na Australië en Nieu-Seeland verhuis – party vir nuwe werksgeleenthede en ander weens politieke redes. Dit was en is steeds vir my moeilik. Ek het op ’n punt gekom waar ek oor my eie lewe begin wonder het. Vrae het in my kop begin ontstaan oor hoekom almal wegtrek, maar ek en my gesin steeds hier is. Dit het my met my gedagtes laat worstel totdat ek vrede begin kry en besef het dat Suid-Afrika ons tuiste is en sal bly. Die liedjie “Ek was hier” handel dus oor die vrede wat ’n mens vind wanneer jy self besef jou geluk is innerlik, en dan volg my liefde vir Suid-Afrika.

Dele van die musiekvideo speel af in Kleinmond. Waarom Kleinmond? Ek het ’n klomp kort video’s van mooi plekke geneem waar ek tussen Januarie en Maart vanjaar was, onder meer in die Kalahari, die Boland en ook Kleinmond. Ek wou met die video’s wys hoe asemrowend mooi ons land is. Kleinmond het lank reeds ’n baie spesiale plek in my hart. Ons hou reeds jare lank daar vakansie, maar die omgewing en natuur is beeldskoon en wanneer ek daar is, voel ek nader aan God.

Is jy tans ’n Kleinmonder of hou jy net soms hier vakansie? Ek doen gereeld vernuwingsprojekte in Kleinmond. Ek hou daarvan om ou huise nuwe lewe te gee.

Wat dink jy oor Kleinmond as dorp en as vakansie-bestemming? Kleinmond is soos die naam sê: Klein en humble en asemrowend mooi. Hermanus is net om die draai. Somerset-Wes is ook baie naby. As jy in Kleinmond is, is jy omring met die mooiste berge en dorpe en die oseaan. Wat fantasties van Kleinmond is, is dat jy oral kan stap, en wanneer jy behoefte aan ’n verskeidenheid kunsgalerye en luukse restaurante het, is Hermanus nie ver van hier af nie. Kleinmond het ook ’n gevoel van gemeenskap. Mense koop groente en vrugte by die Blou Bakkie en Johan, die eienaar, ken almal wat daar instap. Dis fantasties.

Ek wil graag hoor hoe jy jouself in die inperking besig gehou het. Wat het jy alles gedoen? Die inperking het ’n mens baie geleer, maar dit was ook ’n tuimel-trein van emosies. Ons het baie goeie gesinstyd saam deurgebring. Ek het my vrou en kinders opnuut leer ken. Dit sal altyd ’n tyd wees wat ons sal onthou, maar dit was ook ’n tyd om nuwe planne te maak om te oorleef. Ons sal seker eendag almal terugkyk en die positiewe kan insien, maar in hierdie tyd is dit vir baie mense op verskeie vlakke baie moeilik. [Dit is] ’n tyd wat karakter bou, maar soms ook ’n tyd om oor te begin.

Ek sien jy het onlangs saam met Steve Hofmeyr opgetree. Vertel my daarvan en die idee agter dié optrede? Ons het ’n konsertreeks begin met die naam Hier Staan Ons. Dit is om geld vir monumente en erfenis-terreine in te samel. Ons het die eerste vertoning reg voor die Voortrekkermonument gedoen en dit met projektors op die Monument geprojekteer. Die Voortrekker­monument het basies ’n backdrop vir die vertoning geword. Hofmeyr was die eerste gaskunstenaar, want hy bly maar ’n gewilde kunstenaar en kaartjieverkope was natuurlik die enigste manier om geld in te samel. Dit was baie suksesvol. Ons volgende vertoning is in Julie en dit lyk asof Spoegwolf die volgende gaskunstenaar gaan wees. Ek is by elke konsert die gasheer. Ek sing dan ook so drie liedjies, maar voer ook onderhoude met die kunstenaars. Baie opwindend.

Hoe voel dit om ’n digitale vertoning aan te bied waar jy nie voor ’n groot skare sing nie, maar voor ’n kamera met duisende mense wat op hul rekenaarskerms na die vertoning kyk? Aanlyn konserte is iets om aan gewoond te raak. ’n Gehoor in lewende lywe sal altyd koning kraai!

Ek wil graag weet wie is Jak de Priester as jy nie sing of “cool goeters” op Facebook skryf nie? As ek nie sing nie, is ek ’n pa van drie en ’n man van een vrou. Ek speel graag tennis met my oudste seun, dans graag saam met my meisiekind en speel baie Lego saam met die kleintjie!

Jou eerste groot treffer, “Sally Williams Nougat”, het jou destyds beroemd gemaak en baie mense is steeds gek oor die liedjie. Moet jy dit steeds by van jou vertonings sing? Sally is my eerste trefferliedjie, maar dit bly steeds bitter spesiaal. Ek sing dit basies nog by elke konsert, want mense wil dit graag hoor, maar vir my is dit soos die dag toe ek dit geskryf het, want ek beleef die oomblik toe my geliefde (nou my vrou) Londen toe gevlieg het vir ’n working holiday van twee jaar. Dit voel soos gister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.