Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jana hardloop nader aan haar drome

Die langafstandatleet Jana le Roux (18) het Paarl Postin 2016 vertel sy wil eendag in Amerika gaan studeer, en Dinsdag 6 Augustus sal sy haar draftekkies inpak en vertrek om haar droom uit te leef.

Die ywerige atleet, ’n bekende gesig wat daagliks deur die strate van die Paarl hardloop, is met ’n volle beurs by die Oklahoma Baptist-universiteit aanvaar. Jana sal naby Tulsa die dorpie Shawnee, wat vir sy sterk atletiek en landloop bekend is, haar nuwe tuiste en drafroete maak.

Jana, wat reeds verskeie Boland-atletiekrekords verbeter het, neem aan al wat ’n langafstandwedloop is deel en is verlede jaar as die SA o.20-kampioen in die vroueafdeling vir padwedlope oor 21 km gekroon.

Die voormalige leerder van Hoër Meisieskool Paarl is hoofsaaklik aanvaar vir landloop (5 - 8 km) waar sy ook aan die 5 000- en 10 000 m-baanitems in die atletiekseisoen sal deelneem.

Jana vertel hoe sy haar aan die einde van 2018 voorberei het om Pretoria toe te trek om aan Tukkies (Universiteit van Pretoria) te gaan studeer.

“My tasse was gepak en ek sou einde Januarie my studies daar gaan voortsit. Ek was 23 Desember by ’n vriendin in Onrus toe ek per WhatsApp ’n boodskap uit Amerika oor ’n moontlike beurs daar ontvang.

“Ek was aanvanklik ’n bietjie twyfelagtig oor die besluit omdat ek gedink het daar kan soveel wees wat kan skeefloop as ek dalk met die aanbod ingeloop word,” onthou Jana.

Die afrigter in Amerika het haar gerusgestel en na nog ’n Suid-Afrikaner wat daar gehardloop en studeer het, verwys.

Jana het dié atleet opgespoor en ná ’n gesprek het sy besef dit is ’n geleentheid wat sy met albei hande moet aangryp.

“Ek onthou hoe my eerste afrigter, tannie Tanya (Malherbe), eenkeer vir my gesê het dat jy altyd sal wonder ‘wat as’ as jy nie sulke geleenthede aangryp nie.”

Jana sê sy wou nie daaroor wonder en later spyt wees nie. “Ek weet daar is baie jonger mense wat daaroor droom om oorsee te gaan studeer, dus sou ek nogal ondankbaar moes wees om hierdie kans van die hand te wys,” sê sy.

Die prosedure het redelik lank geneem en het vereis dat sy eers ’n oorbruggingstoets moes skryf en by die National Collegiate Athletic Association (NCAA) aansoek doen.

Sy is nou ná maande se administrasiewerk en aansoeke vir visums uiteindelik op pad.

Jana gaan die volgende vier jaar exercise philosophy studeer met dieetkunde en sielkunde as hoofvakke.

“Ek stry nie dat dit wel ’n aanpassing gaan wees nie, maar ek was nog nooit so opgewonde oor iets nie. Ek het groot doelwitte en ek kom nie terug voordat ek hulle almal kan afmerk nie!” sê sy opgewonde.

“Ek beskou dit as ’n goue geleentheid en die deurbraak waarvoor ek nou al jare lank wag.”

Jana sê sy sien ook uit na die kultuur, sneeu in die winter, die besige strate, kos en nuwe spanmaats van wie baie al moeite gedoen het om haar welkom te laat voel.

Oor haar oefenprogram en jaarkalender sê Jana sy gaan oor die hele Amerika deelneem – amper elke naweek in ’n ander gebied – en dit is vir seker iets waarna sy uitsien.

Sy oefen die afgelope twee maande volgens ’n doelgerigte program en voel reeds die verskil.

“Ek gaan die Paarl mis, maar ek sal altyd na die Paarl as my ‘huis’ verwys. Ek het soveel as mens gegroei en ek is dankbaar vir albei skole vir die geleenthede wat my die afgelope vyf jaar gebied is.”

Haar boodskap aan ander jong mense is om “so groot te droom dat ander sal skrik vir jou drome”.

“Jou potensiaal het geen einde nie, so moenie enige limiete stel nie; jy is tot meer in staat as wat jy ooit sal besef. Al wat jy moet doen is om in jouself te glo en natuurlik elke dag hard te werk.”

Jana verlaat Paarl met hierdie woorde: “Dis nie altyd maklik nie; gewis nie. Dit stormreën en dis koud en soms wil ek ook net ’n bietjie laat slaap, maar geleenthede soos hierdie kom nie as ’n mens laat slaap nie. Die Here gee jou die talent en geleentheid, maar dit hang van jou af wat jy daarmee doen!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.