Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kankerpasiëntjies het jou hulp nodig

In September word die kollig internasionaal op bewusmaking oor kinderkanker geplaas en ’n plaaslike organisasie vra inwoners se hulp om Drakenstein in goud te tooi.

Goud is die kleur wat kinderkanker verteenwoordig en die Little Fighters-kankertrust (LFCT), ’n organisasie sonder winsbejag wat ondersteuning bied, nooi ondernemings en die gemeenskap uit om bewustheid oor kinderkanker te help versprei. Inwoners kan goudkleurige linte teen R50 elk koop en dit om ’n boom draai of hul huis of onderneming versier.

LFCT, in die Paarl geleë, streef daarna om gesinne landswyd te help by wie se kinders kanker gediagnoseer is.

LFCT is in 2010 gestig toe besorgdes agtergekom het daar is gesinne wat deur kinderkanker geraak word en dringend hulp nodig het, maar misgekyk word.

“Kinderkanker raak die hele gesin, daarom bied LFCT holistiese dienste aan nie net die kind met kanker nie, maar aan die hele gesin,” vertel Lizelma Olivier, ’n maatskaplike werker van die organisasie.

Olivier het in Maart verlede jaar by die organisasie aangesluit en is sedertdien toegewyd om alle slagoffers en hul gesinne te help.

Little Fighters lewer dienste op drie kerngebiede: ondersteuning in pediatriese hospitaalsale vir onkologie, individuele en gesinsondersteuning en die bevordering van kinderkankerbewustheid.

“Kinderkanker is ’n versameling siektes en is die grootste oorsaak van dood onder kinders jonger as 18 jaar,” sê Olivier.

Volgens haar is daar ’n groot verskil tussen kinderkanker en kanker in volwassenes – omdat kinders nog groei, kan kanker ook vinniger en meer aggressief versprei.

Die gemiddelde tydperk vir behandelings by kinders – van die aanvanklike diagnose tot genesing of remissie – is drie jaar.

“As die kind ’n terugslag ervaar, kan die tyd van behandeling oor baie jare verleng word met ’n potensieel verswakte prognose,” sê Olivier.

Sy verduidelik dat die voorkoms van pediatriese kanker die afgelope 20 jaar met 29% gestyg het.

Volgens haar word kinders met kanker steeds met medikasie wat in die 1950’s tot 1970’s ontwikkel is, behandel.

“Kinderkanker word steeds selde gesien. Dit word ook nog gereeld ’n “weeskindsiekte” genoem, so die ontwikkeling van medisyne vir hierdie groep pasiënte word nie as koste-effektief beskou nie.”

Olivier vertel dat sommige kinderkankers se oorlewingsyfer vir vyf jaar meer as 90% is, terwyl ander ’n oorlewingsyfer vir vyf jaar van minder as 2% het.

“Ongeveer 80% van kinders met kanker in Afrika sterf sonder toegang tot voldoende sorg. Minder as 50% van die kanker by kinders in Suid-Afrika word eintlik gediagnoseer en baie van diegene by wie dit gediagnoseer is, is reeds in die gevorderde stadiums van die siekte.”

Sy verduidelik in 80% van gevalle word kinderkanker te laat gediagnoseer.

Die siekte is dus reeds baie ver gevorder en het ook na ander liggaamsdele versprei.

Kinderkanker is aggressief en ’n laat diagnose kan die waarskynlikheid van die kind se oorlewing van vyf jaar beduidend beïnvloed.

Dit is baie belangrik dat almal weet wat die waarskuwingstekens van kinderkanker is.

’n Paar van die simptome sluit in herhalende of onverklaarbare koors, ’n verlies aan eetlus, onophoudelike infeksies, ’n witterige kleur agter die pupille en onverklaarbare knoppe op die kop, aan die nek of op die res van die liggaam.

Van die veldtogte wat vir September beplan is, sluit die volgende in:. ’n Inkleurkompetisie vir kinders tussen 5 en 9 jaar sal gehou word.. LFCT sal bewustheid skep deur tafels met inligting op verskillende plekke te beman.. Op 21 September sal die Hop Skop Spring-dagskool ’n pretdraf en -stap vir liefdadigheid hou om bewustheid oor kinderkanker te bevorder en geld vir LFCT in te samel.

Bel Lizelma Olivier by 021 870 1282 of 073 729 6155 vir meer inligting oor enige van LFCT se bewusmakingsveldtogte.

Mense wat LFCT graag wil help om kinders met kanker en hul gesinne by te staan, kan gerus hul webwerf by www.littlefighters.org.za/get-involved besoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.