Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Klaskamers nog nie vervang nie

Die stryd tussen ’n plaaslike skool in Paarl-Oos en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) duur voort nadat vier klaskamers vroeër vanjaar afgebrand het.

Dit volg nadat ’n brand 23 Maart omstreeks 19:30 by die Charleston Hill Sekondêre Skool weens ’n kortsluiting by ’n klaskamer uitgebreek het en vinnig na drie ander klaskamers versprei het.

Die beheerraadslede van die skool vertel dat hulle al telkemale by die WKOD gaan aanklop het vir ’n oplossing om die klaskamers te vervang.

Behalwe dat die beheerraad se pleidooi op dowe ore geval het, moes die leerders eers betoog voordat die WKOD ’n plan gemaak het om die oorblyfsels van die skool se perseel te verwyder. Die gebrande strukture wat bly staan het, is steeds daar.

Die beheerraadslede meen dat die asbesvesels en -deeltjies steeds in die lug vrygestel word – veral wanneer die wind waai.

“Die departement het eerder die gedeelte wat gebrand het afgesper, maar nog niks gedoen om die klaskamers te vervang nie,” vertel die ondervoorsitter van die beheerraad.

Verder meen sy dat die asbesvesels steeds ’n gesondheidsrisiko vir elke leerder, onderwyser en niedoserende personeel inhou.

Die sekretaresse van die beheerraad het vertel: “Hierdie brand was net nóg ’n terugslag van vele vir die skool. Ons skool wat ’n stokou gebou is, loop gereeld deur onder inbrake en skrootdiefstal wat keer op keer tot onvoorsiene uitgawes vir herstelwerk lei. Daar is ook belowe dat ons skool oorgebou sou word, maar dit is ook seker nou van die lys geskrap.”

Met die onderhoud met Paarl Post het die beheerraadslede gesê hierdie terugslag het die skool se leerders ’n agterstand gegee omdat hulle nie meer hul prakties by die skool kan doen nie.

“Ons kinders het aan ons vertel dat hul­le nou ver na buurskole moet stap om hul prakties te kan doen. Boonop boelie van die leerders by buurskole ons kinders en dit maak dat hulle nie meer wil skool toe kom nie,” het die ondervoorsitter op haar beurt vertel.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD het, sê die huidige situasie by die skool hou geen risiko vir die leerders in nie.

“Die skool is hiervan in kennis gestel en is bewus daarvan dat steekproewe in die lug uitgevoer is. Hulle is meegedeel dat daar geen onaanvaarbare blootstelling aan asbesvesels bestaan nie.”

Volgens Hammond is die skool in April vanjaar ingelig dat die konstruksie nie voor 1 Oktober sou plaasvind nie en dat die sloping van die beskadigde gebou onderhewig is aan administratiewe prosesse buite die direkte beheer van die WKOD.

“Die finale datum van sloping moet nog steeds aan ons deurgegee word. ’n Mobiele klaskamer met dubbele een­hede word tans vir die skool aangeskaf vir verbruikerstudies.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.