Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Klubhuis verniel en geplunder

Die Bergrivier-krieketklubhuis in Wellington is die afgelope paar maande só erg verniel en geplunder dat die gemeenskap se sportliefhebbers met hul hande in hul hare sit.

Volgens Rashied Benjamin, die krieketklub se voorsitter, het die Weltevrede-krieketveld se geriewe geheel en al tydens die inperking onder plundery deurloop.

Hy noem daar is met die kragdrade gepeuter en die klubhuis is gevandaliseer. Daar is nou geen krag by die gebou nie en die toilette en kleedkamers is erg beskadig.

“Daar is niks elektrisiteit nie, niks water nie, niks stortproppe nie, van die dakkappe is verwyder, die plafon, kaste, spieëls . . . daar is eintlik niks,” vertel Benjamin.

“Daar is niks vir my jong spelers om na te kom om te sê ons het ook ’n goeie klubhuis wat goed in stand gehou word nie. Dit maak dit verskriklik moeilik vir ons om vorentoe te gaan.”

Weltevrede-sportterrein akkommodeer nie net die krieketveld nie, maar is ook die tuiste vir veerpyltjies, potspel, fiksheidsfasiliteite, netbalbane, die sokker- en rugbyvelde.

Daar is al telkemale herstelwerk aan die klubhuis gedoen, maar daar is steeds kommer dat diefstal hoogty vier.

Paarl Post het in April berig dat booswigte, ondanks ’n pepersproei-alarmstelsel wat geïnstalleer is, toegang tot die klubhuis verkry het.

Die klubhuis is ’n brandpunt vir booswigte en daar is selfs ’n groot gat in die betonmuur gemaak wat die veld omhein. Dit gee die booswigte nou makliker toegang tot die perseel.

Daar is slegs een sekuriteitswag snags aan diens wat die hele Weltevrede-sportterrein met sy hond moet beveilig.

Benjamin vrees dat die grootte van die veld en die beperkte beligting maak dat hy moontlik nie verdagtes in die donker sal kan opspoor nie.

Die vandalisme en plundery is reeds onder die aandag van die Drakenstein-munisipaliteit gebring en daar is glo planne om die probleem op te los, maar volgens Benjamin, vat dit te lank.

Die krieketklubhuis is nie die enigste sportgebou in Wellington wat as problematies bestempel is nie.

Die historiese tennisbaan-klubhuis in Parkstraat is in September platgeslaan nadat munisipale amptenare bevind het dat dit ’n brandpunt van dwelms en misdaad in die gemeenskap geword het.

By vorige navraag oor die stand van sportgeriewe in Wellington wat agteruitgaan, het Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, voorheen gesê die munisipaliteit probeer deurgaans om sover moontlik die fasiliteite in stand te hou en op te gradeer waar nodig, maar dit gaan hand aan hand met beskikbare geld.

“Voortdurende vandalisme en die geldelike impak daarvan het dit uitdagend gemaak vir die munisipaliteit om sportgeriewe in stand te hou. ’n Verdere terugslag is die gebrek aan die neem van eienaarskap en die aanmelding van vandalisme en diefstal deur die gemeenskap by die munisipaliteit,” sê Esau. Die munisipaliteit het nie op Paarl Post se jongste navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.