Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kol. Cassie groet ná 36 jaar diens

’n Kolonel wat ’n polisieman in murg en been was, het die polisiediens vandeesweek ná 36 kleurryke jaar in uniform gegroet.

Lt.-kol. Lionel Carstens, beter bekend as Cassie, het reeds op vyfjarige ouderdom daarvan begin droom om eendag ’n polisieman te word toe hy op die destydse Paarl-Oos-polisiekantoor se perseel grootgeword het.

“Ek het daagliks met bewondering gesien hoe die polisiemanne en -vroue (voorheen in kakie-uniform) hul take uitvoer,” onthou Carstens.

Kolonel Cassie was een van vier kinders van die oudpolisieman William Carstens, die eerste bruin stasiebevelvoerder van die destydse Paarl-Oos-polisiekantoor, en sy vrou, Lenie.

Hy is die enigste van die kinders wat in sy pa se voetspore gevolg het.

Carstens is die pa van twee seuns, André (22) en Charl (18), en is al 24 jaar getroud met Theresa, wat ook ’n polisievrou is.

Hy het sy skoolloopbaan aan Nederburg Primêr begin en aan Paulus Joubert Sekondêr matrikuleer.

Ná skool het hy in 1984 sy basiese polisie­opleiding aan die Bishop Lavis-opleidingskollege ontvang. Daarna is hy by die Paarl-polisiekantoor gestasioneer.

Carstens is in 1988 tot sersant bevorder en het die rang as adjudant-offisier in 1990 behaal. Kort daarna is hy na die Paarl-Oos-polisiekantoor verplaas.

“Ek is ná ’n offisierskursus van 13 weke tot luitenant bevorder,” verduidelik Carstens.

Daarna het hy sommer vinnig die leer geklim en is in 1995 tot kaptein bevorder.

Vir sy laaste twee range is Carstens deur ’n paneel gekeur.

“Ek het my range ontvang vir die diens wat ek by die kantoor vir Boland-misdaadvoorkoming verrig het nadat ek stasiebevelvoerder by die Paarl-Oos-polisie, misdaadvoorkomingshoof van die Paarl-polisie, hoof van sigbare polisiëring in Paarl-Oos, sigbare­polisiëringkoördineerder van Paarl se gebiedskantoor en ook ondersteunings­dienshoof van Paarl-Oos was.”

In sy vroeë jare in die polisiediens het hy besluit om verder te studeer sodat hy deur middel van bykomende kennis ’n beter diens as polisieman kon lewer.

Carstens vertel: “Ek het ná ure by die destydse Technikon RSA studeer en ’n nasionale diploma in polisie-administrasie behaal.”

Carstens word erken as ’n op-en-wakker polisieman wat nooit geskroom het om ’n dief in sy spore te stuit nie.

“Of hy nou ’n boemelaar of ’n welgestelde inwoner se klagtes moes neem, het hy albei ewe regverdig gehelp,” getuig sy kollegas.

Carstens het ook talle uitdagings in sy beroep gehad en hy moes gereeld hartseer en gevaar in die gesig staar.

Carstens sê hy sal nooit vergeet toe hy ’n studentekonstabel was en ’n kollega moes vergesel om iemand vir ’n ernstige misdryf in hegtenis te gaan neem nie.

“Die verdagte het ons met ons aankoms bestorm en met ’n mes gedreig. Hy het wild na ons begin steek en ek is in die hand getref.”

Nog ’n hartseersaak vir hom is die bendegeweld wat al jare ’n verskynsel is wat nie wil verdwyn nie.

“In my loopbaan kon ons dit destyds onderdruk en beheer net omdat dit toe net hier en daar voorgekom het. Die gemeenskap het ook baie hiermee gehelp. Maar vandag is bendegeweld ’n daaglikse ding en redelik buite beheer.”

Een van die vele hoogtepunte in sy loopbaan was toe hy van 2000 tot 2003 as stasiebevelvoerder by Paarl-Oos aangestel is voordat kol. John Alexander by hom oorgeneem het.

Carstens moes gereeld as bevelvoerder op verskeie vlakke waarneem.

Hy verduidelik: “As ’n bevelvoerder was dit my plig om toe te sien dat lede hul take uitvoer soos wat van hulle verwag word.”

Op die vraag hoe die polisiediens en gemeenskap van destyds en nou verskil, antwoord hy: “Moderne polisiëring verwag van lede om die Grondwet te alle tye te eerbiedig. Wel, ek sal sê polisiebeamptes moet op hoogte van veranderende wetgewing bly en onthou kennis is mag.”

’n Dankbare Carstens wil almal bedank wat ’n rol in sy sukses gespeel het.

Maar, nou met sy aftrede, gaan hy vir eers meer gereeld visvang en langs die rugbyveld wees om sy seun te ondersteun.

Carstens sê as hy weer sy beroep kan kies, sou hy gewis weer ’n polisieman wil wees om tot die diens van ’n gemeenskap en sy kollegas te wees.

“As jy ’n polisiebeampte wil word en daarvan hou om ’n diens aan jou gemeenskap te lewer, is dié beroep die regte keuse vir jou,” motiveer hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.