Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Korona knou toerisme oral

Leë gastehuise, restaurante en wynkelders; konferensies en troues afgestel – kortliks, miljoene rande se verlies vir die ganse Drakenstein-toerismebedryf. Dít is die werklikheid van wat die koronapandemie vir dié gebied beteken.

En die langtermynuitwerking hiervan is duisende werkge­leenthede wat tot niet gaan.

Só vertel kenners vandees­week namate die werklikheid van die korona-virus-histerie in die gebied ontvou.

Die skade is reeds dadelik gevoel met die skok-aankon­diging van die Cape Epic wat reeds verlede naweek sou afskop, maar gekanselleer is. En daarmee gepaard is alle verblyf wat hiervoor in Paarl en Wellington bespreek is, gekanselleer.

Om nie eens te praat van al die wynplase wat duisende besoekers verwag het wanneer die Epic deur die gebied sou beweeg nie.

Hierdie hart van die wyn­lande is ook bekend vir sy troues, wat tans in hoogseisoen is, maar so word dié ook links en regs af- of uitgestel weens die vrees vir die siekte, asook die president se maatreëls waarvan een is dat byeenkomste van meer as 100 mense tans nie toelaatbaar is nie.

Annelize Stroebel, voorsitter van die Drakensteinse plaaslike toerismevereniging (DLTA) skets ’n treurige prentjie van die huidige situasie.

Toerisme is die eerste en grootste bedryf wat deur só ’n wêreldkrisis geraak word.

“Ons sit met gastehuise wat leeg is en wat nou gekonfron­teer word om geld vir bespre­kings terug te betaal. Konferensies en gebeurtenisse asook groot sportgeleenthede word en is reeds afgestel. Ek is bevrees dat van ons kleiner B&B’s dalk nie die mas gaan opkom hieroor nie.”

Dan is die wynbedryf, wat ook al lank voor die koronakrisis reeds negatief beïnvloed is met uitvoer wat onder druk is, nog verder bloedneus geslaan.

Vandeesweek het die nuus vroeg gebreek oor ’n Nederlandse besoeker wat Saterdag 7 Maart talle wynplase in Stellenbosch en Paarl besoek het en wat ’n week later positief vir die Covid-19-siekte getoets is. Van die plase waar die Nederlander besoek afgelê het, soos Delheim en Tokara, is nou vir ’n paar weke in kwarantyn geplaas. Ander wynplase is onseker oor watter stappe om te doen – baie kan eenvoudig nie bekostig om hul deure vir selfs net ’n week te sluit nie.

“Die afname in kelderdeur­besoeke is vir baie plase astronomies,” sê Stroebel. “Internasionale wynskoue is al sedert Januarie gekanselleer en dit is die platform vir ons wynkelders waar hulle hul wyn verhandel en met agente ontmoet. Ek dink nie ons as wyndrinkers besef die groot druk en impak wat hierdie wêreldwye pandemie op ons landbou het nie.

“Die hele toerismeketting word hierdeur geraak – van die vulstasie tot die hardeware­winkel; noem maar op. Toeriste bly nie net in gastehuise en eet net in restaurante nie. Dit het ’n impak op die hele ekonomie.”

’n Positiewe aspek, het Stroebel gesê, is wel indien sakeondernemings in hierdie krisis staande kan bly, sal hulle hopelik die eerste wees wat herstel. Die rede hiervoor is dat toeriste wat ’n vakansie beplan het, heel moontlik net hul planne gaan uitstel, nie afstel nie. “Ongelukkig kan dieselfde nie gesê word van konferensies en ander geleenthede nie.”

Vinpro, wat die SA wynbedryf verteenwordig, het by monde van Wanda Augustyn gesê hulle ondersteun die president se besluit om die koronavirus tot ’n nasionale ramp te verklaar, sowel as die spesifieke riglyne deurgegee.

“Net soos wat ons die president se maatreëls by Vinpro self ondersteun en nakom, moedig ons ons lede aan om met die nodige omsigtigheid in hul ondernemings om te gaan – ingevolge die nasionale riglyne en binne die konteks van hul eie omgewing. Dit sluit die beveiliging van werknemers, klante en besoekers by wyntoe­risme­bestemmings in.

Hoewel talle mense by Mediclinic Paarl vir die koronavirus getoets is, was daar tot dusver nog net een geval van ’n positiewe toetsing Maandag. Die pasiënt het homself tuis in self-afsondering geplaas. Niemand is tot dusver by die Paarl-hospitaal positief getoets nie. • The Corona pandemic will have disastrous effects on the tourism as well as the wine industry, which will lead to million-rand losses and in the long term some job losses as well.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.