Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kultuur maak vir hulle baie saak

’n FAK-kultuurnetwerk is onlangs te midde van koue weer in Wellington gestig.

Lede van die Rapportryers, Dameskring en Die Voortrekkers was saam met ander inwoners van die dorp, wat ’n passie vir kultuur en erfenis deel, by dié stigting betrokke.

Elizma Smith, koördineerder van FAK-kultuurnetwerke in die Wes-Kaap en Oos-Kaap, sê dié groep het lekker entoesiasties gesels en stories en feite gedeel van hierdie Bolandse dorp waarvoor hulle lief is.

“Wellington is ryk aan kulturele Afrikanererfenis. Die geboorteplaas van die trekleier Piet Retief is daar, die staatsman J.B.M. Hertzog en die digter Jan F.E. Celliers is daar gebore, die predikant Andrew Murray het diep spore in Wellington getrap en die dorp is vir ’n rede bekend as die Wamakersvallei om maar ’n paar goed te noem,” sê Smith.

“Die netwerk se stigtingsvergadering is in die Stucki-gedenksaal gehou. ’n Groot ou skoolklok met ’n ketting bo die voordeur, enkele skoolbankies en foto’s is stille herinneringe aan ’n tyd toe hierdie gebou ’n skooltjie was waar kinders in die vorige eeu in Nederlands onderrig is.”

Marinus Jacobus Stucki het in 1860 uit Nederland na Suid-Afrika gekom en in dieselfde jaar, as jong 18-jarige, ’n skooltjie in Bovlei (Blaauwvallei) begin met 29 leerders in die kelder van ’n gebou. Meester Stucki het onderrig in Nederlands gegee in ’n tyd toe Engels in die Kaapkolonie oorheers het. Daar word na hom as ’n baanbreker-onderwyser verwys.

’n Skoolgebou is in 1867 opgerig met die medewerking van die leerders se ouers. In 1874 is die dak deur ’n brand vernietig. Die gebou is toe met ’n verdiepinggebou vervang waarvan die boonste vlak slaapkwartiere vir leerders was. Die Stucki-skool in Bovlei het van 1860 tot 1919 bestaan. Van 1920 tot 1928 is die gebou gebruik as ’n huishoudkundeskool vir behoeftige meisies, maar sedertdien staan dit leeg. Die verdiepinggebou het mettertyd verval en is met die enkelverdieping­gebou vervang wat vandag nog daar staan.

Verskeie van die leerders by hierdie skool het later bekende mense geword, soos die Springbokrugbykaptein Paul Roos, prof. Gabriël Gideon Cillié, eerste rektor van die Universiteit Stellenbosch, en ds. David Wilcocks, lektor aan die Sendinginstituut in Wellington en veldprediker tydens die Anglo-Boereoorlog.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het verlede jaar ter viering van sy 90ste bestaansjaar besluit om kultuurrade, oftewel kultuurnetwerke soos hulle nou bekend staan, weer tot stand te bring. Die FAK het kort ná sy stigting in Desember 1929 begin om kultuurrade in gemeenskappe te vestig. Onderliggend hieraan was oortuiging dat een kultuurvlam op nasionale vlak nie genoeg is om ons Afrikaanse taal en kultuur doeltreffend te bevorder nie.

Die eerste kultuurraad is in 1930 in Pretoria gestig en kort daarna het die kultuurvlam feitlik in elke dorp oor Suid-Afrika helder gebrand.

Een van die belangrikste samestellende dele van die FAK was die kultuurrade, omdat dié rade ’n baie belangrike pilaar in die struktuur van georganiseerde Afrikanerkultuur gevorm het. Deur middel van kultuurrade het die samesnoering van georganiseerde kultuuraksies op plaaslike vlak plaasgevind. Terselfdertyd het die kultuurraad as ’n onmisbare skakel tussen die FAK en plaaslike kultuurgemeenskappe gedien.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê plaaslike kultuurrade het soos baie ander kultuurorganisasies, Afrikaanse skole en takke ná 1994 verdwyn.

“Dit was ’n reuseverlies vir ons taal en kultuur. Die agteruitgang van Afrikaans en kultuurerfenis in soveel gemeenskappe, die versplintering en krimp van kultuurorganisasies, die verlies aan getalle, die gebrekkige skakeling en samewerking tussen kultuurorganisasies onderling met Afrikaanse skole kan ook aan die verlies van ’n koördinerende ondersteunende platform wat die ou kultuurrade gebied het, toegeskryf word.”

Die FAK-kultuurnetwerk in Wellington is nou die vyfde netwerk wat in die Wes-Kaap en Oos-Kaap gestig is. Die ander is in die Paarl, Graaff-Reinet, Port Elizabeth en Mosselbaai.

. As jy wil betrokke raak by dié kultuurnetwerk in Wellington of by een van die ander, kan jy vir Elizma Smith ’n e-pos stuur na elizma@fak.org.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.