Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kyk net – die Malans is in die Paarl!

Die voorskou van die eerste episode van die nuwe kykNET-televisiereeks Alles Malan het my heeltemal onkant gevang en kinderlik opgewonde gemaak.

Dié nuwe Afrikaanse reeks, wat Dinsdae om 20:00 op kykNET te sien is, is in die hartjie van die Paarl verfilm.

Die Paarl Post-span het die geleentheid gekry om die eerste episode in MiniMax te gaan kyk.

Die akteurs het vooraf vertel dat Alles Malan ’n familiereeks is, iets wat van oupa tot kleinkind saam kan geniet.

Die Malan-familie bestaan uit Derik en Brenda Malan, gespeel deur onderskeidelik Albert Maritz en Elsabé Daneel. Hul seuns is Frik (Ivan Zimmermann) en Nico Malan (Sean Marco Vorster). Frik se vrou is Tessa (Nadia Valvekens) en Nico se verloofde is Lee-Ann (Nicole Fortuin). Frik en Tessa se kinders is Elani (Greteli Fincham) en Freek (Mateo Olivier).

Die eerste episode bring waarlik verskillende emosies na vore – die liefde wat ’n ma en pa vir hul kinders het en ook hoe hul kinders se besluite hulle dikwels verslae en teleurgesteld laat, maar dat hulle tog as ouers hul kinders deur dik en dun bystaan.

Daar is ook skaterlag-oomblikke – as die ouer garde eers ’n selfie leer ken het, byvoorbeeld – asook die ernstige oomblikke en selfs oomblikke waar ’n paar trane weggepink word.

Buiten die puik toneelspel het ek van trots geborrel elke keer as ek ’n bekende gebou, pad of besigheid in die program sien . . . en die pragtige berge van die Paarl! Die Paarl lyk glad mooier op die kassie en laat kom ’n mens weer tot die besef dat ons in ’n pragtige dorp woon.

Die reeks maak verder gebruik van Hugenote Hoërskool en kykers sal talle plaaslike inwoners herken wat as byspelers gebruik word.

Een van die hoofakteurs, Freek, oftewel Mateo, is ’n leerder by Hoërskool Labori en Brent Vermeulen (Johan), wat Elani se nuwe liefde speel, is ’n oudleerder van Hoërskool Gimnasium Paarl. Ook te sien is die Paarliete Gaireyah Fredericks, skrywer en akteur asook drama-onderwyser van MCM Kuns & Kultuurskool, en Wayne Galant, ook werksaam by MCM. Die twee regisseurs, Corné en Rene van Rooyen is ook Paarliete.

Alles Malan se eerste episode het my beslis nuuskierig gemaak om te sien wat volgende gaan gebeur, soveel so dat ek op hul webtuiste gaan kyk het of daar nie nog ’n voorskou is nie.

Die span van Alles Malan het die volgende te sê oor hul tyd in die Paarl: “Dit was ’n groot spanpoging, met hulp van baie Paarliete en Wellingtonners, om die reeks te kon realiseer.

“Mense was ongelooflik behulpsaam, ons het so ’n wonderlike ervaring in die Paarl en Wellington gehad en ons voel daardie positiewe energie spring van die televisie af. Ons het ook ’n klomp nuwe talentvolle akteurs ontdek wat rolle in die reeks het. Veral die oulike kinders van Hugenote Hoërskool was die kersie op die koek!”

Die span wil ook die volgende ondernemings bedank: Neulux Logistics, Malan Stasie, Kikka, Hugenote Hoërskool, Decor Lighting, Tilla Killian (Malan-huis) Boland Travel, Auto Nantes, Johann Enslin (Hugenote Hoërskool), Lise Beyers en Paarl Post, Drakenstein-munisipaliteit, Noop en Slug & Lettuce.

Maak seker jy hou Dinsdagaande 20:00 oop om Alles Malan – en terselfdertyd sommer alles Paarl ook – te sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.