Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma maak kinders steel

Skok en ongeloof is vandeesweek wêreldwyd uitgespreek nadat beeldmateriaal op sosiale media die ronde gedoen het waarin ’n vrou vermoedelik haar drie kinders tot misdadige optrede dwing.

Die eerste diefstal is duidelik deur sekerheidskameras in Paarl Mall afgeneem en het op 11 November afgespeel toe die ‘ma’ en haar drie kinders die winkelsentrum besoek het.

Die video wys duidelik hoe die vrou haar drie kinders inspan om ’n ander vrou se handsak van die grond af te steel terwyl die slagoffer rustig by Steers sit.

Elke kind kry ’n beurt om die sak te probeer steel, maar op die nippertjie skram hulle weg as iemand verby loop.

Toe die vrou egter seker was dit is veilig om dit te doen, het een van haar dogtertjies die sak nader gesleep, gegryp en aan haar ‘ma’ oorhandig, waarna die gesinnetjie ontsnap het voordat onraad vermoed is. Hul bewegings is wel duidelik deur die sekerheidskameras vasgevang.

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, het bevestig dat ’n diefstalklag aanhangig gemaak is.

Steers Paarl Mall het die voorval in ’n verklaring bevestig.

“Steers het ’n beleid van geen geduld teenoor misdaad. Ons vra om verskoning aan die slagoffer wat deur die voorval geraak word en wil ons kliënte verseker dat hul veiligheid vir ons belangrik is.”

Sandra Nothnagel, Paarl Mall se bemarkingsbestuurder, het die voorval bevestig. Sy het egter nie ’n vraag oor hoe die Paarl Mall se sekerheids­beheerkamer werk, geantwoord nie.

Op die video is dit duidelik dat die kamera op die diefstal-toneel gefokus is, maar sodra die gesinnetjie met die gesteelde handsak na die uitgang van die mall beweeg, dan volg die kamera hul beweging.

Nou wil die publiek weet hoe is dit moontlik dat die mall sekuriteit nie gereageer het hierop en die vrou vasgetrek nie.

Die publiek word nou aangemoedig om waaksaam te bly en hul persoonlike besittings binne sig te hou.

Kort nadat die video van 11 November op sosiale media versprei is, het nog ’n video ook van ’n vrou en jong kind – die ronde gedoen. In dié video, vermoedelik by ’n Wellington winkelsentrum, is die vrou en dogter se stelery weer op beeldmateriaal vasgevang. Die video wys ook duidelik hoe die vrou die meisie misbruik om ’n ander vrou se beursie uit haar handsak te steel.

Paarl Post het vandeesweek beeld­materiaal bekom van ’n derde geval waarby iemand wie baie soos die mall verdagte en die ouer meisie lyk, moontlik betrokke was.

Dié keer was die voorval op Malmesbury. Dit wys hoe drie vroue en ’n tienermeisie ’n slaghuis in dié dorp binnegaan. Hulle dwaal daar rond en maak asof hulle inkopies wil doen.

’n Kantoordeur staan oop en toe een van die vroue besef niemand is daarin nie, word die meisie ingestuur en sy kom met ’n banksak uit. Sy oorhandig dit vinnig aan een van die ander vroue wat dit versteek en die klompie vat dan die pad voordat iemand onraad kon vermoed.

Volgens die winkel se bestuurder, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het die banksak ’n redelike bedrag kleingeld bevat.

Die saak is by die Malmesbury-polisie aangemeld.

. In ’n tyd wanneer almal deur misdaad geraak word, is die gemeenskap taamlik vuisvoos hiervoor.

Dit is egter duidelik dat die optrede van ’n vrou, vermoedelik die ma van die drie kinders, wat haar kinders in ’n leefstyl van misdaad dwing, die gemeenskap ten diepste geskok het .

Die publiek wil dus weet wat lê vir die kinders in die toekoms voor?

Al die videos kan besigtig word op Paarl Post se Facebook-blad.

. Worldwide outrage has been expressed after security camera footage was posted on social media clearly showing a mother urging her children to steal a handbag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.