SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Ma praat hart uit oor Hannah en Cheslin

“Sê vir die polisie hulle moet Hannah gaan soek.”

Dit was Cheslin Marsh se eerste woorde aan sy ma, Marilyn, toe sy op daardie oggend van 27 Mei 2017 ’n oproep ontvang het en na ’n hospitaal in Kraaifontein ontbied is.

Cheslin, wat in Wellington woon, waar hy ’n leerder aan Wellington Hoërskool was voordat hy later aan Noorder-Paarl Sekondêr gematrikuleer, is steeds midde-in ’n nagmerrie met die hofsaak van die grumoord op sy vriendin en aanval op hom wat steeds voortduur.

Cheslin is in ’n wêreld van chaos gedompel nadat sy vriendin Hannah Cornelius se lyk op 27 Mei 2017 langs die pad naby ’n wynplaas buite Stellenbosch gevind is. Sy is twee keer aan die linkerkant van haar nek met ’n mes gesteek voordat sy met ’n klip of klippe oor die kop geslaan is.

Cheslin het ten tyde van die voorval teologie aan Universiteit Stellenbosch studeer, maar moes intussen opskop weens die trauma wat hy ervaar het.

Volgens sy ma wil hy sy tersiêre studie die een of ander tyd voltooi, maar in hierdie stadium is hy nog nie heeltemal seker nie.

Die twee Matie-studente is in die vroeë oggendure daardie noodlottige dag in Stellenbosch gekaap en ontvoer. Hy (Cheslin) is ná ’n nagmerrierit aangerand en vir dood agtergelaat.

“My eerste gedagte was: Wat het hulle daardie aand as studente gedoen – waar het hulle gekuier?” vertel Marilyn, Cheslin se ma.

“Toe ek die oggend ’n oproep ontvang, het ek gemengde gevoelens gehad. Ek het glad nie só iets verwag nie. Nooit sou ek kon dink dat hy aangerand is nie,” vertel sy.

Die vier beskuldigdes, Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius, staan tereg op aanklagte van die verkragting van en moord op Cornelius, asook poging tot moord op Marsh.

Volgens ’n berig op Netwerk24 het die staat verlede week sy saak in die verhoor gesluit. Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het ook hul sake gesluit.

Regter Rosheni Allie het die saak tot 7 November vir uitspraak uitgestel.

Tussen al hierdie gruweldade moes die Marsh-gesin, wat steeds in Wellington woon, die afgelope jaar opgeskeep sit met konstante aandag, ’n swaar mediateenwoordigheid, emosionele stres, seer en woede. Dit is genoeg om selfs die sterkste mens te breek.

Oor die telefoon klink Marilyn bedaard en praat sy met gemak, maar ’n mens kan maar net wonder hoeveel trane hierdie ma van drie al moes wegvee.

Sy vertel dat sy dankbaar is vir die ondersteuning wat sy uit die hele gemeenskap ontvang het.

“Dit is baie emosioneel om hom (Cheslin) so te sien; ek kan nie dink dat dit ‘gewone’ mense is wat so iets aan hom kan doen nie.”

Marilyn sê hy het homself aan die begin blameer en sy moes elke dag vir hom bid en sê “moenie dink dit is jou skuld nie”.

“Daar is ’n rede hoekom jy oorleef het. Dit was om Hannah se moordenaars uit te wys en te vertel wat daardie aand gebeur het.”

Marilyn onthou die eerste keer dat sy Hannah ontmoet het: “Dit was ’n baie goeie ontmoeting. Sy het my sommer onmiddellik omhels,” vertel sy met ’n sagte lag.

“Sy het dieselfde spontane eienskappe as Cheslin getoon, en dit is wat ek van haar wil onthou.”

Hannah se dood was nie die eerste tragedie wat die gesin getref het nie. Marilyn vertel hoe sy haar moed bymekaar moes skrap toe sy sewe jaar gelede op ’n motorongeluk afgekom het waarin haar man dood is.

Met Hannah en Cheslin se voorval het sy dieselfde emosionele wipwaentjie beleef en moes sy vir haar familie en kinders sterk staan.

“Ek het gevra: Hoekom ek; hoekom het dit met my gebeur? Soms bevraagteken ons die Here, maar ons moenie, want ons gaan nie altyd die antwoorde kry nie.

“Kinders het nie meer vryheid nie, maar ouers moet, sodra hulle uitgaan, biddend bly want die duiwel is altyd op soek na nog prooi.

“Ek het besef familie is kosbaar; hulle is daar om jou in tye van nood te dra.”

Cheslin se ma sê Hannah se moordenaars het baie van hom weggeneem, maar een ding wat hulle nie weggevat het nie, is sy spontaneïteit.

. The mother of Cheslin Marsh has shared the emotional rollercoaster which her family has had to endure during her son’s assault and kidnapping and the death of his friend Hannah Cornelius.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Paarl Post Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.