Die twee mans wat verlede week in Noorder-Paarl in hegtenis geneem is en na bewering in besit van duisende perlemoene was, het gister (Woensdag 10 Junie) weer in die Paarl-landdroshof verskyn op ’n aanklag dat hulle ’n perlemoenaanleg bedryf het.
Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die Paarl-polisie het Chen Zhuang (29), ’n Chinees, en Mohammed Hussein (28), ’n Somaliër, in hegtenis geneem, waarna die Valke die ondersoek oorgeneem het. Die polisie het hulle verlede Dinsdag in Kerkstraat in die Paarl voorgekeer nadat hulle verdag voorgekom het.
“Die bestuurder en passasier het gevlug, maar die polisie het hulle agternagesit en in hegtenis geneem,” sê Nkwalase.
Die polisie het die voertuig deursoek en op 8 250 perlemoene afgekom. Daar is op die voertuig en die perlemoen beslag gelê.
Die polisie het die Valke se hulp ingeroep en op ’n perlemoenaanleg op ’n perseel in St. Francisstraat, waar perlemoene verwerk en gedroog word, afgekom. ’n Groot hoeveelheid gedroogde perlemoene is ook in die huis gevind.
Die saak is weer uitgestel en die verdagtes word aangehou.